Bible Society of South Africa

’n Verlamde man en die gat in die dak

Deur Driekie Olwage

Eendag was Jesus besig om vir die mense te leer. Daar was ook Fariseërs en skrifgeleerdes wat na Hom geluister het. Hulle het gekom uit al die stede van Galilea en Judea en ook uit Jerusalem. Die Here God het vir Jesus krag gegee om mense gesond te maak.

’n Paar manne het ’n man wat verlam was, op ’n slaapmat nader gebring. Hulle het gekyk waar Jesus is, en hulle wou die man in die huis inbring en voor Jesus neersit. Maar hulle kon nie naby Jesus kom nie, want daar was te veel mense.

Hulle het toe op die dak geklim en van die dakteëls uitgehaal. Toe laat sak hulle die verlamde man op die slaapmat deur die gat in die dak tot voor Jesus. Almal het dit gesien.

Jesus het gesien hulle glo Hy kan die verlamde man gesond maak, en Hy het vir die man gesê: “My vriend, Ek vergewe jou sondes.”

Die skrifgeleerdes en die Fariseërs het saggies met mekaar gepraat en gesê: “Wie is hierdie man? Hy maak of hy God is. ’n Méns kan nie sondes vergewe nie, net God kan.”

Jesus het geweet wat hulle praat en sê toe vir hulle: “Hoekom sê julle dit? Wat is makliker om te sê: ‘Ek vergewe jou sondes,’ of ‘Staan op en loop?’ Ek wil nou vir julle wys dat Ek, die Seun van die mens, sondes mag vergewe op die aarde.”

Toe sê Jesus vir die lam man: “Ek sê vir jou, staan op, neem jou slaapmat en gaan huis toe.”

Die man het dadelik opgestaan. Almal het dit gesien. Hy het die slaapmat geneem waarop hy gelê het en hy het huis toe gegaan. Hy het aangehou om God te prys.

Al die mense was verbaas en hulle het God ook geprys. Hulle was bang en hulle het aangehou om God te eer. Hulle het gesê: “Vandag het ons wonderlike dinge gesien.”

Lukas 5:17-26

Aktiwiteite:

Die Bybel vir almal 2008 © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2007, 2008.
Oudio-opname deur Driekie Olwage ℗ 2021.
Slegs vir privaat gebruik. Nie vir herverspreiding nie. Geen veranderinge word toegelaat nie.

Illustrasies © www.lambsongs.co.nz

Bible Society of South Africav.4.23.0
VOLG ONS