Bible Society of South Africa

’n Dogtertjie word lewendig en ’n vrou raak aan Jesus se kleed

Deur Driekie Olwage

Jesus het teruggegaan na die provinsie Galilea. Baie mense het na Hom toe gekom. Hulle het vir hom gewag. Daar was ’n man met die naam van Jaïrus. Hy was ’n belangrike man in die sinagoge. Hy het ook na Jesus toe gekom, voor Hom op die grond gekniel en vir Jesus gesoebat om na sy huis te kom. Jaïrus se enigste dogtertjie, wat 12 jaar oud was, was baie siek, sy was naby haar dood. Jesus het saam met Jaïrus begin stap om na sy huis toe te gaan, maar daar was baie mense wat teen hulle gedruk het en gestamp en gestoot het.

Tussen al daardie mense was daar ’n vrou. Sy was al vir 12 jaar lank siek. Sy het aangehou bloei. Sy het al haar geld gebruik om dokters te betaal om haar gesond te maak, maar niemand kon haar help nie. Terwyl Jesus op pad was na Jaïrus se huis het die vrou van agter gekom en sy het aan die soom van Jesus se klere geraak. Dadelik het sy opgehou bloei. Jesus gaan staan toe stil en vra: “Wie het aan My geraak?”

Almal wat rondom Hom gestaan het, het gesê hulle het nie aan Hom geraak nie. “Here, hier is baie mense wat teen U druk,” het Petrus gesê.

“Iemand het aan My geraak, want Ek het gevoel daar gaan krag uit My uit,” antwoord Jesus.

Die vrou het besef, Jesus weet van haar. Sy het gebewe en nader gekom en voor Jesus gekniel. Toe vertel sy daar voor al die mense hoekom sy aan Hom geraak het en dat sy dadelik gesond geword het. Jesus sê toe vir haar: “Liewe vrou, jy het nou gesond geword, want jy het geglo. Gaan nou huis toe, dit sal goed gaan met jou.”

Terwyl Jesus nog met haar praat kom een van Jaïrus se mense daar aan en sê vir hom: “Jou dogtertjie is dood. Jy moenie die Meester nog pla nie.” Jesus hoor wat die man sê en sê toe vir Jaïrus: “Jy moenie bang wees nie. Jy moet net glo, dan sal God jou dogtertjie red.”

Toe Jesus by Jaïrus se huis kom, wou Hy nie hê die ander mense moet saam met Hom in die huis ingaan nie. Hy het net vir Petrus, Johannes, Jakobus en die dogtertjie se pa en ma saamgeneem. Die mense het almal gehuil en getreur oor die dogtertjie. Maar Jesus het gesê: “Julle moenie huil nie, want die dogtertjie is nie dood nie, sy slaap net.”

Die mense het vir Jesus gelag, want hulle het geweet die dogtertjie is dood. Toe Jesus in die vertrek kom, het Hy haar hand geneem en gesê: “Dogter, staan op.” Op daardie oomblik het die dogtertjie weer begin lewe en sy het dadelik opgestaan. Jesus sê toe vir hulle om vir haar iets gee om te eet.

Haar ouers was baie bly, maar Jesus het vir hulle gesê hulle mag glad nie vir iemand vertel wat gebeur het nie.

Lukas 8:40-56

Aktiwiteite:

Die Bybel vir almal 2008 © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2007, 2008.
Oudio-opname deur Driekie Olwage ℗ 2021.
Slegs vir privaat gebruik. Nie vir herverspreiding nie. Geen veranderinge word toegelaat nie.

Illustrasie © Didier Martin / FreeBibleimages.org

Bible Society of South Africav.4.23.0
VOLG ONS