Die wonderwerk van die baie visse
Deur Driekie Olwage
Eendag het Jesus by die see van Gennesaret gestaan en Hy het die boodskap van God vir die mense verduidelik. Baie mense het na Hom geluister en hulle het rondom Jesus gestaan en teen Hom gedruk.
Jesus het twee bote gesien wat langs die see lê. Die vissermanne was nie in die bote nie. Hulle was besig om die visnette te was.
Jesus het in een van die bote geklim. Dit was Simon se boot. Hy het vir Simon gevra om ’n bietjie verder van die strand weg te roei en toe leer Hy die mense vanuit die boot.
Toe Hy klaar gepraat het, het Hy vir Simon gesê: “Roei ’n bietjie verder tot waar die see diep is en gooi julle nette in die water om vis te vang.”
“Meester, ons het die hele nag hard gewerk, en niks gevang nie. Maar … as U sê ek moet dit doen, dan sal ek die nette ingooi.” Het Petrus, moeg geantwoord.
Hy gooi toe die nette in die see en … skielik is daar so baie visse dat die nette amper stukkend skeur. Hulle het hulle vriende in die ander boot geroep om te kom help. Hulle vriende het gekom en hulle het altwee bote vol visse gemaak. Dit was so vol, die bote het amper gesink.
Toe Simon Petrus dit sien, het hy voor Jesus op die grond geval en gesê: “Here, gaan weg van my, want ek is ’n man wat baie sonde doen.”
Simon Petrus en die ander mense saam met hom was baie verbaas oor die baie visse wat hulle gevang het. Jakobus en Johannes was ook baie verbaas. Hulle was die seuns van Sebedeus en hulle het saam met Simon gewerk en visgevang.
Jesus sê toe vir Simon: “Moenie bang wees nie. Van nou af sal jy nie meer visvang nie, jy sal mense bymekaarmaak.”
Hulle het met die bote tot by die land geroei en alles net daar gelos en saam met Jesus gegaan.
Lukas 5:1-11
Aktiwiteite:
Die Bybel vir almal 2008 © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2007, 2008.
Oudio-opname deur Driekie Olwage ℗ 2021.
Slegs vir privaat gebruik. Nie vir herverspreiding nie. Geen veranderinge word toegelaat nie.Illustrasie © www.lambsongs.co.nz