Bible Society of South Africa

Die verlamde man van Betesda se groot dag

Deur Driekie Olwage

Later was daar weer ’n Joodse fees, en Jesus het na Jerusalem gegaan. By die Skaap-poort in Jerusalem was daar ’n bad, soos ’n groot swembad. Die Hebreeuse naam van die bad was Betesda.

By die bad was vyf gange met pilare. Daar het baie siek mense gelê. Hulle was blind of verlam of kreupel. Daar het ’n man gelê wat 38 jaar lank al siek was. Jesus het die man daar sien lê en Hy het geweet dat die man baie lank siek was. Toe vra Jesus vir hom: “Wil jy gesond word?”

“Meneer, ek het niemand om my in die bad te sit wanneer die water begin beweeg nie. Elke maal wanneer ek probeer om in die water te kom, gaan iemand anders voor my in die water.” Het die man geantwoord.

Jesus sê toe vir hom: “Staan op, neem jou slaapmat en loop!”

Op daardie oomblik het die man gesond geword. Hy het sy slaapmat geneem en begin loop.

Dit het op ’n Sabbatdag gebeur. Die Jode sê toe vir die man wat gesond geword het: “Dit is ’n Sabbatdag. Jy mag nie jou slaapmat op die Sabbatdag dra nie!”

“Die man wat my gesond gemaak het, het gesê ek moet my slaapmat neem en loop.” Het die man vir hulle opgewonde vertel.

Die Jode vra hom toe: “Wie is die man wat vir jou gesê het jy moet jou slaapmat neem en loop?”

Die man wat gesond geword het, het nie geweet wie dit was wat hom gesond gemaak het nie. Jesus was ook nie meer daar nie. Hy het weggegaan omdat daar so baie mense was. Later het Jesus die man in die tempel gekry. Jesus het vir hom gesê: “Jy is nou gesond. Jy moenie weer sonde doen nie, want dan sal iets met jou gebeur wat slegter is as die siekte wat jy gehad het.

Johannes 5:1-14

Aktiwiteite:

Die Bybel vir almal 2008 © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2007, 2008.
Oudio-opname deur Driekie Olwage ℗ 2021.
Slegs vir privaat gebruik. Nie vir herverspreiding nie. Geen veranderinge word toegelaat nie.

Illustrasie © Richard Gunther (www.richardgunther.org)

Bible Society of South Africav.4.27.6
VOLG ONS