Wat is nuut in Junie 2022?

Nuwe Leesplan – Die bron van ons hoop

Hierdie 15-dag leesplan vertel die verhale van God as die Bron van alle hoop en hoe om ʼn Christus-gesentreerde lewe te lei. Geniet u Bybelleesreis!

  • Jy kan inteken op hierdie leesplan op die BibleSA-app om daaglikse kennisgewings te ontvang.

Nog meer Bybelvertalings deur Bybelgenootskappe voltooi

Ondanks ’n tweede jaar wat deur Covid-19 omvergewerp is, het Bybelgenootskappe wêreldwyd in 2021 daarin geslaag om Bybels en Bybelgedeeltes in 90 tale en wat deur 794 miljoen mense (net meer as 10% van die wêreldbevolking) gepraat word, te vertaal.

“Elkeen van hierdie vertalings sal die lewens van individue, families en gemeenskappe aanraak en verander,” sê Michael Perreau, Direkteur-generaal van die Wêreldbond van Bybelgenootskappe. “Ons is so dankbaar vir die vertalers wat jare van hul lewens daaraan gewy het om Bybels en Bybelgedeeltes aan hul gemeenskappe beskikbaar te stel, selfs onder baie moeilike omstandighede.”

Van Mexiko tot Mianmar het 48 taalgroepe – sowat 11 miljoen mense – vir die eerste keer ‘n Bybelvertaling in hul taal ontvang. Drie hiervan was volledige Bybels.

Nuwe of hersiene vertalings is voltooi in ’n verdere 43 tale, wat deur 783 miljoen mense gepraat word. Hierdie vertalings maak die Bybel toeganklik vir taalgroepe waar vorige vertalings nie meer hulle behoeftes aanspreek nie. Die volledige Bybel is nou beskikbaar in 719 tale wat deur 5,8 miljard mense gepraat word. Nog 1 593 tale het ‘n Nuwe Testament en 1 212 het Bybelgedeeltes ontvang. Altesaam 7,1 miljard mense beskik nou oor ‘n Bybelboek of ten minste ‘n seleksie in hul moedertaal.

Meer as die helfte van die wêreld se tale het nog glad nie ‘n Bybel of Bybelgedeelte beskikbaar nie.

Die Wêreldbond van Bybelgenootskappe en ander Bybelvertalingsagentskappe gaan voort om te werk om die Bybel in elke taal beskikbaar te stel. Groter samewerking, ontwikkeling in tegnologie en donasies het alles die afgelope jare tot ongekende momentum in Bybelvertaling gelei.

Ons is dankbaar vir donateurs en vennootskappe wat dit vir miljoene meer mense moontlik gemaak het om toegang te kry tot die hoop en vertroosting van God se Woord.

Hoe kan jy help?

Elke R100 wat ontvang word, sal help met die vertaling van die Bybel.

Gepubliseer op Dinsdag 14 Junie 2022