Covid-19: Staan ferm op God se beloftes in die Bybel

Met die aanbreek van 2020 het baie mense groot hoop gehad vir die nuwe jaar en uitgesien na ‘n nuwe begin. Dit is ‘n paar maande later en dinge lyk bleek. Die Koronavirus, Covid-19, saai paniek regoor die wêreld en skielik is daar vrees en onsekerheid in die harte van miljoene.

Die beperkinge wat daar geplaas word rakende grootskaalse vergadering van mense, het grotendeels ‘n einde gebring aan aanbidding in groepe. Dit lyk of selfs vanjaar se Paasfeesvieringe hieronder sal lei.

Tog, word ons as gelowiges geroep om die lig te wees in die wêreld veral in donker tye soos hierdie. Die hoop wat ons het in ons Hemelse Vader en sy beloftes in sy Woord maak dat ons die lig op die heuwel kan wees vir diegene wat nog verlore en paniekbevange is.

Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou. Jesaja 41:10

Ons mag dalk by tye ook voel dat die paniek van ander ons wil oorval, maar God se Woord gee ons die versekering dat ons met Jesus Christus, vrede kan hê wat alle verstand te bowe gaan. Vrede en die wete dat ons God in beheer is, ongeag die omstandighede waarin ons verkeer.

Gee aan hulle vrede en voorspoed, Here, want hulle het hulle vertroue op U gestel. Vertrou altyd op die Here, want die Here God is ‘n veilige toevlug. Jesaja 26:3-4

Laat ons wegdraai van die vrees en paniek van die wêreld en fokus op ons geloof en gebed, want ons God is magtig, getrou en liefdevol en hy ken ons by naam en hy jubel oor ons.

Die Here jou God is by jou, Hy, die krygsman wat red. Hy is vol vreugde oor jou, Hy is stil-tevrede in sy liefde. Hy jubel en juig oor jou … Sefanja 3:17

Die Bybel maan ons om verder te kyk as ons onmiddellike omstandige en om sekerheid en standvastigheid te vind in die Een wat ons geskep het en wat ons so lief het dat hy sy enigste seun gegee het om vir ons te sterf.

Hierdie Paasfees, wanneer ons weer eens hierdie wonderlike offerdaad vier, sal ‘n groot gedeelte van die planeet vasgevang wees in die donkerte van die Covid-19 pandemie. In die tyd van Jesus se dood, was daar ook ‘n allesomvattende donkerte oor die wêreld. Die man op wie so baie hul hoop geplaas het, het dood aan ‘n kruis gehang. Toe was daar ook vrees, angstigheid en onsekerheid.

Maar toe breek Maandag aan, en die graf was leeg. Jesus het sonde en die dood oorwin sodat almal wat hul hoop op hom vestig die ewige lewe kan beërwe.

Hierdie virus is van die wêreld en tydelik, laat ons sterk staan in ons geloof en vertrou op die een wat reeds die wêreld oorkom het en wat vir ewig is.

Vir meer bemoedigende verse vanuit die Woord van God, laai ons hulpmiddels: As jou lewe donker word en Moenie bang wees nie! af.

Gepubliseer op Maandag 23 Maart 2020
Hierdie webwerf word aan jou gebring deur die Bybelgenootskap van Suid Afrika. Deur BibleSA te gebruik, stem jy in tot ons Privaatheidsbeleid en Bepalings en Voorwaardes.[Verberg boodskap]