Bible Society of South Africa

Wat steek daar in my Christenskap? – 23 Augustus 2022

Deur Fanie Richter

Bybelteks(te)

MATTEUS 7

Hoor en doen

21“Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is.

MATTEUS 7:21AFR83Maak oop in die Bybelleser

Wat is jou motiewe met jou Christenskap, hetsy in jou gewone lewe, of dalk jou besigheid of selfs as jy in ’n bediening staan?

Ons moet elkeen vir onsself vra, “Waarom is ek ’n Christen en volg ek vir Jesus Christus? Het ek werklik die Here lief en is ek gehoorsaam aan sy verlange en verwagting met my lewe? Het ek al erns gemaak om te weet wat sy lewensdoel vir my is?”

Of is ek nie dalk besig om Hom te volg vir wat daar vir my ‘in’ is nie? Wil ek iemand daarmee beïndruk om iets daaruit te verkry – aanvaarding en ‘liefde’, of selfs meer inkomste en wins, vir my – sodat dit met my goed of nog beter kan gaan?

En as God dit nie seën nie?

Beskou ek sy seëninge as genade van ’n liefdevolle Vader – en wat my in staat stel om te dien en weer vir iemand anders tot seën te wees – of is dit ’n bate waarop ek aandring?

Dis sidderend om te dink dat ’n mens dalk onbewustelik of selfs bewustelik besig kan wees om Christenskap – jou deelwees van sy liggaam en koninkryk – te misbruik en uit te buit vir niks anders nie as jou egoïsme, selfsug en hebsug. Dit kom daarop neer dat ek Hom dan eintlik wil gebruik as ’n ‘handlangertjie’ vir my voorspoed en aansien en om in die hemel te kom. Dis afskuwelik, gruwelik.

In Matteus 7:21 lees ons: “Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is.” (Lees verse 21-27, asook Lukas 13:25-28)

Gebed: “Deurgrond my, o God, deurgrond my hart, ondersoek my … Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad!” (Psalm 139:23-24) Amen

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS