Vrese en bekommernisse: Sê nou ek het nie genoeg nie? – 17 Februarie 2022
Deur Charlea Sieberhagen-Grey
Bybelteks(te)
MATTEUS 6
Die gedeelte in Matteus 6:26-29 was nog altyd een van my gunstelinge. Nie net oor die wonderlike belofte wat daarin saamgevat word nie, maar ook oor die mooi en praktiese beelde wat gebruik word om hierdie boodskap oor te dra.
Ek onthou hoe ons destyds toe ek nog in die laerskool was, elke Donderdagoggend ’n “gewyde sang-periode” gehad het. Vir ’n hele uur lank het die hele skool bymekaar gekom om “Bybelliedjies” saam te sing. Een van die treffers was natuurlik die bekende kinderlied “Kyk hoe dat die voëltjies vlieg”:
Kyk hoe dat die voëltjies vlieg.
Sommer so, hoog daarbo.
God laat al die voëljies vlieg.
Hoog daar bo.
Hy doen soveel meer vir my.
Ek sal altyd dankbaar bly
En my nie bekommer nie,
Hy’s by my.
As mens is ons mos maar geneig om oor alles te tob en te bekommer oor wat die dag van môre gaan bring. Ons wonder dikwels of ons genoeg gaan hê vir ons oudag, genoeg geld vir kos, genoeg brandstof in die motortenk, genoeg om vir ’n nuwe baba te sorg. Genoeg om met ons leefstyl vol te hou …
Maar die Bybel herinner ons oor en oor om nie bang te wees nie en om nie te bekommer oor die toekoms nie – ook nie oor of ons genoeg gaan hê nie. Makliker gesê as gedaan, né? Veral as ’n mens geneig is om dinge te oordink.
Vir my lê die sleutel wel in vers 27: “Dit sal niks help as julle bekommerd is nie. Dit sal julle nie langer laat lewe nie, nie een uur langer nie.”
My ma, ’n onderwyser, het vir baie jare in haar klas hierdie aanhaling van die Nederlandse horlosiemaker en skrywer, Corrie ten Boom, teen ’n kas opgeplak: “Worrying doesn’t empty tomorrow of its sorrow; it empties today of its strengths.”
Hoe waar is dit nie? Om te bekommer kan verlammend wees en op die ou einde is ’n mens bloot onproduktief en oneffektief. Ek glo dít is ook waarom Jesus in Matteus 6 benadruk dat dit ons niks gaan help om te bekommer nie. Ons kan ons tyd soveel beter gebruik – ons kan God vra vir hulp en ons kan probeer om planne te beraam en produktief te wees.
Om op God te vertrou om te voorsien beteken wel nie ons kan net sit en wag en wonder nie. Die voëls daar buite begin mos elke oggend vroeg rondvlieg opsoek na iets te ete. En God voorsien elke dag vir hulle. So waarom nie vir ons ook nie?
Gebed: Here, dankie dat ek kan weet dat U aan my en my geliefdes sal voorsien. Dankie dat ek kan weet dat U sal sorg. Help my om nie my tyd te mors deur te bekommer nie. Help my om eerder geleenthede raak te sien en aan te gryp. Amen