Vrede tussen mense – 22 September 2022
Deur Ben Fourie
Bybelteks(te)
ROMEINE 14
In Romeine hoofstuk 14 word een van die belangrikste uitsprake oor die koninkryk van God gemaak, want dit gaan hier om die verhouding tot ander mense en veral medegelowiges. Alhoewel die hele brief aan die Romeine deurspek is van verwysings na naasteliefde, is dit veral vanaf hoofstuk 12:9 dat Paulus sy betoog oor die medemens en liefde en verdraagsaamheid verskerp. Luister net na Romeine 13:8a: “Wees aan niemand iets verskuldig nie, behalwe om mekaar lief te hê” en Romeine 14:13a: “Daarom kom ons veroordeel mekaar nie meer nie”.
Een van die dinge wat aanleiding gegee het tot Paulus se vermanings en riglyne was ‘n stryery in die gemeente oor watter rituele en dogmas reg is en watter nie. Vasdae, watter kossoorte geëet mag word en watter nie, asook die feit dat sommige dae meer belangrik geag is as ander het die kern van die verskille uitgemaak.
Hierdie argumente oor die verskille was blykbaar ook nie maar net ‘n ligte onderonsie nie, want Paulus gebruik woorde soos veroordeel en neersien op mekaar. Hy spreek hier albei die opponerende kante aan. Die “sterkes” in die geloof, wat geglo het ‘n mens is vry van enige beperking op kos en vas en onderhouding van sekere dae, het neergesien op die “swakkes” in die geloof. Die “swakkes” het weer die “sterkeres” verag omdat hulle nie ‘n baie strenger leefwyse gevolg het nie.
Klink dit nie baie bekend nie? Ongelukkig klink dit al te bekend, want deur die eeue het hierdie verskille tussen gelowiges en selfs kerke nog glad nie verminder nie. Individuele “gelowiges” pak mekaar in briewe in die koerant op soms die mees onchristelike manier en dikwels nog erger op sosiale media. Kerke verskil soms so hewig van mekaar dat daar geen moontlikheid van versoening is nie.
In ons teksvers sê Paulus tog so duidelik dat die koninkryk van God nie oor kos en drank gaan nie, en kan ek byvoeg, ook nie oor ons klein verskilletjies wat opgeblaas word tot reuse probleme nie. God se koninkryk gaan oor geregtigheid en vrede en blydskap in die Heilige Gees. Kom ons wat nou hier lees begin vanaf vandag voluit “streef na die dinge wat die onderlinge vrede en mekaar se opbou bevorder”. (Romeine 14:19)
Gebed: Ons bid dat U ons asseblief moet vergewe dat ons as kerke en gelowiges soms voor die hele wêreld ‘n karikatuur maak van u koninkryk omdat ons egos so groot is dat daar nie plek vir ‘n ander se siening is nie. Help ons om werklik die vrede en blydskap in die Heilige Gees te ervaar. Amen