Bible Society of South Africa

Twee paaie – lewe of dood? – 6 Oktober 2022

Deur Ewald Schmidt

Bybelteks(te)

ROMEINE 8

5Dié wat hulle deur hulle sondige natuur laat beheers, hou hulle besig met die dinge van die sondige natuur, maar dié wat hulle deur die Gees laat beheers, hou hulle besig met die dinge van die Gees. 6Die dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou, loop uit op die dood, maar die dinge waarmee die Gees Hom besig hou, bring lewe en vrede.

ROMEINE 8:5-6AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die Nuwe Testament gebruik op baie plekke die beeld van twee paaie (sien Matteus 7:13-14) en elke mens bevind hom of haar op een van die twee. Die eerste is die pad van die dood. Paulus waarsku in hierdie gedeelte dat ons gebore is op die pad van ons sondige natuur, en hierdie pad se eindbestemming is die dood. Die sondige natuur is die toestand waarin ek die koning van my eie lewe is. Ek doen wat ek graag wil, sonder om my aan die Here se wil te steur. Spreuke 21:2 waarsku: “In sy eie oë is alles wat ‘n mens doen, reg, maar die Here toets die gesindheid.”

As ‘n mens wonder oor die effek van die mens se sondige natuur, kan jy maar net na enige nuusberig kyk. Al die oorlog, geweld, misdaad, en die meeste van die seerkry in hierdie wêreld word veroorsaak deur die optrede van ‘n mens wat gedoen het wat reg is in sy eie oë, sonder om sy naaste in ag te neem. Die sondige natuur se effek is dodelik op die planeet, op menseverhoudings, en op my eie toekoms.

Die alternatief wat die Here bied, is soveel beter! Waar ons oorgee aan Jesus se Koningskap, stel ons onsself onder die leiding van die Heilige Gees. Hy lei ons terug na die wil van God toe. Die wil van die Here is dat ons in verhouding met Hom sal lewe. Dat ons menseverhoudings sal getuig van sy liefde. Dit wat die Gees vir ons bied, is lewe, en vrede! Vrede met God, vrede met my naaste, vrede met die planeet wat die Here vir ons gegee het om te bewaak en te bewerk. En vrede in myself. Ek hou my dan besig met die dinge van die Gees. Die Gees is in die besigheid om stukkende verhoudings heel te maak. Om mense te herstel na die beeld van die Here toe. Om vir mense lewe, vrede, hoop en ‘n toekoms te gee. Wanneer dit my ingesteldheid in my lewe is om ‘n medewerker van die Gees te wees, dan word my lewe ‘n seën vir die mense rondom my. Ek is hier om te dien, tot God se eer. Ek is hier om sout vir die aarde en lig vir die wêreld te wees. (Matteus 5:13-16) Dit bring lewe, en vrede, wat die wêreld tans so nodig het!

Gebed: Here, lei my deur u Gees op die pad van die lewe! Kom werk deur u krag in my, dat ek ‘n instrument in u hand kan wees, ‘n boodskapper van u lewe en u vrede in hierdie wêreld. Amen

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS