Bible Society of South Africa

Trek aan vir die geleentheid – 7 Maart 2022

Deur Xanthe Hancox

Bybelteks(te)

LUKAS 12

Die gelykenis van die waaksame slaaf

35“Wees gereed, die heupe omgord en die lampe aan die brand! 36Julle moet wees soos mense wat vir hulle eienaar wag tot hy van die bruilof af terugkom, sodat hulle dadelik vir hom kan oopmaak as hy kom en aanklop. 37Gelukkig is die slawe vir wie die eienaar by sy koms wakker sal aantref. Dit verseker Ek julle: Hy sal hulle aan tafel laat sit, self 'n voorskoot aansit en hulle kom bedien.

LUKAS 12:35-37AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die eienaar kom laat van ‘n troue af. Instede van reguit bed toe te gaan of om sy bediendes te beveel om vir hom ‘n laatnag happie te maak, trek hy sy werksklere aan en bedien sy bediendes.

Wat ‘n vreemde gelykenis! Ek stel my voor die mense wat daar rondom Jesus gestaan en luister het, was heeltemal verward. ‘n Aristokraat wat seker maak die waterbekers is vol, terwyl sy bediendes feesvier? Onmoontlik.

Dit is vir ons minder vreemd want ons erken Jesus as die eienaar. Reeds met sy geboorte het Jesus Hom as ‘n dienaar bewys. Jesus het dit weer bewys toe Hy ‘n handdoek om Hom vasgemaak en begin het om sy dissipels se voete te was. (Lees Johannes 13) En toe sy dissipels begin stry oor wie as die belangrikste beskou moet word, het Jesus dit beklemtoon dat Hy tussen ons is as die Een wat dien. (Lukas 22:27)

Die karakter van die koning staan sentraal in die koninkryk van God. Wanneer ons die dienskneg-hart van God begin verstaan, is dit onmoontlik om nie deur sy genade oorweldig te word nie. Jesus sê dat ons Hom waarlik eer wanneer ons belangrikheid “uittrek” en begin om ander te dien.

Gebed: Here, ons is gewoond daaraan om ons sin te kry, en ons hou daarvan om bedien te word. Help ons om nederig te wees en nie altyd ons eie belange eerste te stel nie, maar wel die van ander, sodat ons U daardeur kan eer. Amen

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS