Bible Society of South Africa

Saaier, saad, onkruid – 9 Maart 2022

Deur Xanthe Hancox

Bybelteks(te)

MATTEUS 13

14In hulle geval word die profesie van Jesaja vervul wat sê:

“ ‘Julle sal hoor en hoor en tog niks verstaan nie, en kyk en kyk en tog niks sien nie.

15Hierdie volk se verstand is afgestomp: hulle het hulle ore toegedruk en hulle oë toegemaak

sodat hulle nie met hulle oë kan sien en met hulle ore kan hoor

en met hulle verstand kan verstaan en hulle bekeer, en Ek hulle gesond maak nie.’

16“Maar julle oë is bevoorreg dat hulle sien, en julle ore dat hulle hoor. 17Dit verseker Ek julle: Baie profete en gelowiges wou graag sien wat julle sien, maar het dit nie gesien nie, en wou graag hoor wat julle hoor, maar het dit nie gehoor nie.”

Jesus verklaar die gelykenis van die saaier

18“Luister julle dan na wat die gelykenis van die saaier beteken: 19Die Bose kom by elkeen wat die woord van die koninkryk hoor maar dit nie verstaan nie, en vat dan weg wat in sy hart gesaai is. Dit is hy by wie daar op die pad gesaai is. 20Die man weer by wie daar op die klipbanke gesaai is, is hy wat die woord hoor en dit dadelik met blydskap aanneem. 21Hy laat dit egter nie by hom wortel skiet nie, en hy hou nie lank uit nie. As hy ter wille van die woord verdruk en vervolg word, word hy gou afvallig. 22Die man by wie daar tussen die onkruid gesaai is, is hy wat die woord hoor, maar die bekommernis van die lewe en die verleidelikheid van rykdom verstik die woord, en dit bly sonder vrug. 23Die man by wie daar op goeie grond gesaai is, is hy wat die woord hoor en dit verstaan. Hy dra inderdaad vrug en lewer 'n oes: soms honderdvoudig, soms sestigvoudig, soms dertigvoudig.”

Die gelykenis van die onkruid tussen die koring

24Hy het nog 'n gelykenis aan hulle voorgehou en gesê: “Die koninkryk van die hemel kan vergelyk word met 'n man wat goeie saad op sy land gesaai het. 25Een nag, toe die mense slaap, het sy vyand gekom en onkruid tussen die koring gesaai en verdwyn. 26Toe die groen koring opskiet en in die aar begin kom, het die onkruid ook sigbaar geword.

MATTEUS 13:14-26AFR83Maak oop in die Bybelleser

Hier het ons nog ‘n gelykenis oor saad, maar hierdie keer fokus dit op die soort saad wat gesaai word en op die plante wat daarvan groei. Goeie koringsaad word in ‘n land gesaai, en onkruid word ook gesaai. Die eienaar kry die keuse om die onkruid te laat verwyder, maar hy wys die aanbod van die hand. Hy wil die koring laat groei en daarom besluit hy die onkruid moet maar bly. Word die onkruid uitgetrek, sal die koring daarmee saam uitgetrek word.

Die eienaar weet dat tydens die oestyd sal dit makliker wees om die koring van die onkruid te skei. Intussen sal die koring groei soos koring moet groei, en die onkruid sal onkruid bly. Hy besluit om beide tot volwasse plante te laat groei, want die twee kan dan makliker geskei word – die verskil tussen die koringare en die onkruid is dan baie duidelik.

Hierdie is ‘n prentjie van hoe God se Woord en lewe elke dag in ons groei terwyl ons in sy oesland in hierdie wêreld leef. Dit is maklik om in te pas, om soos die mense om ons te wees. Wanneer ons egter omring word deur die sonde en boosheid van hierdie wêreld, kan onsekerheid ons oorval. Maar ons Here ken ons, en Hy kies om ons nie uit sy land te verwyder nie. Hy laat toe dat ons daar bly en, in teenstelling met die onkruid, die oes te lewer wat Hy van ons verlang.

In die middel van die week bring hierdie gelykenis vir ons ‘n boodskap van bemoediging. Vertrou die eienaar van die land, sy liefde sal jou tot volwassenheid dra.

Gebed: Here, dankie dat U my liefhet. Help my om vol vertroue in alle situasies die persoon te wees wat U my gemaak het om te wees. In u Naam bid ek dit. Amen

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS