Bible Society of South Africa

Oop vir elkeen wat glo – 9 September 2022

Deur Ben Fourie

Bybelteks(te)

MATTEUS 16

19Ek sal aan jou die sleutels van die koninkryk van die hemel gee, en wat jy op die aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat jy op die aarde oopsluit, sal in die hemel oopgesluit bly.”

MATTEUS 16:19AFR83Maak oop in die Bybelleser

Op ‘n dag toe ek die voorreg gehad het om in die pragtige ou kerk in die Karoodorp, Nieu-Bethesda, te preek, sien ek hoe die koster die oggend na die diens die voordeur met ‘n reuse sleutel sluit. Dit het my laat dink aan die woorde van Jesus aan Petrus. Daar bestaan dan ook talle standbeelde en skilderye van Petrus met die sleutels van die koninkryk van die hemele in sy hande en ander weer waar Jesus die sleutels aan hom oorhandig. Daardie oggend in Nieu-Bethesda het ek gedink hoe vreeslik moet dit wees om voor die deur van die koninkryk te staan en hier word dit voor jou oë toegesluit. Miskien was dit maar omdat die sleutel so besonder groot was, maar daar was vir my so ‘n finaliteit aan die groot sleutel wat in die slot draai.

Deur die eeue was daar al baie verklarings vir wat Jesus bedoel het met hierdie woorde aan Petrus. Die meeste verklaarders stem egter saam dat Jesus nie hier vir Petrus aangestel het as “hekwagter” nie, maar dat dit wat hy so pas bely het, die ware sleutel tot die koninkryk is. Die woorde van Jesus het ‘n aanloop. Jesus het besef dat sy tyd besig was om min te raak. Hy is dus besig om sy volgelinge al meer te onderrig in wat hulle sou nodig hê om sy werk voort te sit. Op ‘n dag wil hy hoor wie die mense dink hy werklik is, maar veral wie sy eie dissipels dink hy is. Toegang tot die koninkryk van die hemele word bepaal deur die antwoord op die vraag.

Petrus se antwoord is die sleutel wat die deur na die koninkryk oopsluit: “U is die Christus die Seun van die lewende God.” (Matteus 16:16) Deesdae het ‘n mens mos ‘n toegangswoord nodig vir enigiets onder die son wat jy wil doen, of dit banksake is of om jou rekenaar in die oggend aan die gang te kry. Die toegangswoord vir die koninkryk van die hemele is Petrus se belydenis. Christus as die Seun van die lewende God, is die groot sleutel wat vir ons die toe deur na God toe oopsluit, ‘n deur wat deur die mens self toegemaak is.

Gebed: Baie dankie Here dat U nooit die deur na U toe finaal toesluit nie, maar altyd wil oophou vir ons elkeen wat glo en bely dat Christus u Seun is. Amen

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS