Onwankelbare koninkryk – 27 September 2022
Deur Ben Fourie
Bybelteks(te)
HEBREËRS 12
Daar is min dinge wat mens sielkundig so afknou as onsekerheid en onstabiliteit. Oral soek mense na sekerheid, in hulle verhoudings, hulle werk, hulle geldsake en nog baie ander dinge. Mense soek veral ook na sekerheid in hulle geestelike lewens. Baie gelowiges sukkel deesdae om sin te maak uit wat hulle hoor oor godsdiens en die Bybel. Dit wat eers as seker en waar aanvaar is, word in die postmoderne tyd dikwels bevraagteken.
Ek is baie gelukkig dat ek nog nooit ‘n aardbewing deurgemaak het nie. Mense wat dit wel beleef het, sê dat die ergste daarvan juis is dat die aarde wat veronderstel is om permanent rotsvas te wees, skielik begin beweeg en onstabiel is. Dit wat jy vanaf jou kleinste dag af ervaar het as stabiel, laat jou nou skielik in die steek. So is dit ook met baie mense se godsdiens wanneer hulle gekonfronteer word met van die nuwere idees oor die Bybel. Die skrywer van die brief aan die Hebreërs gebruik ‘n beeld wat aan ‘n aardbewing kan herinner wanneer hy sê dat God die aarde en hemel met sy stem laat bewe. Die skrywer wil hierdeur sê dat God eens aan die einde van die tyd die geskape dinge wat as wankelbaar gesien word, sal laat eindig.
In kontras hiermee staan die onwankelbaarheid van sy koninkryk tot in ewigheid. Die sekerheid van die onwankelbare koninkryk wat elke gelowige ontvang, is rede tot groot dankbaarheid. Hierin lê ‘n groot waarheid opgesluit as dit kom by hoe stabiel ons godsdiens ervaar. Ek hoor soms dat mense sê hulle gaan maar min kerk toe en neem nie juis aan hulle gemeente se bedrywighede deel nie omdat dit so gou ‘n “gewoonte” kan word. Hierdie “gewoontes” is dikwels juis die grondslag van sekerheid en stabiliteit in jou geloofslewe. Om te weet God se koninkryk is onwankelbaar en om dan besig te wees met diens aan God, die medemens en die kerk binne die ruimte van die koninkryk, is die resep vir ‘n gelukkige lewe.
Gebed: Laat my elke dag die sekerheid ervaar van u vaste onwankelbare liefde vir my. Amen