Bible Society of South Africa

Nuwe lewe deur die Gees – 10 Oktober 2022

Deur Ewald Schmidt

Bybelteks(te)

ROMEINE 8

9Julle word egter nie deur julle sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees, want die Gees van God woon in julle. As iemand die Gees van Christus nie het nie, behoort hy nie aan Christus nie.

Die Heilige Gees speel so ‘n kritiese rol in ons geestelike lewe. Paulus sê dit duidelik in hierdie vers – sonder die Heilige Gees kan jy nie ‘n kind van God wees nie! Hy sê dit ook in 1 Korintiërs 12:3 dat niemand kan sê dat Jesus die Here is, sonder die Gees van God wat in hom werk nie.

Dit is die Heilige Gees wat eerste in ons harte begin werk, nog voordat ons in God glo. Dit is net Hy wat ons kan oortuig van sonde in ons lewe, sonder Hom dink ons dat alles wat ons doen, reg is in ons eie oë. Dit is Hy wat ons bewus maak van die liefde van Jesus. Hy kom maak die verlossingsboodskap persoonlik – Hy oortuig dat Jesus vir my aan die kruis gesterf het, en deur sy opstanding ook vir my ‘n nuwe toekoms moontlik gemaak het. Sonder die Heilige Gees se werking bly ons harte kliphard vir die roepstem van die Here.

Die Heilige Gees stel ons aan Jesus as Verlosser voor. Wanneer ons Hom as Here van ons lewe leer ken, is dit die Heilige Gees wat ‘n nuwe mens in ons gebore laat word. Die Heilige Gees wil ons so graag in hierdie nuwe lewe lei, Hy wil ons help vorm dat ons lewe meer en meer na die beeld van Jesus sal lyk.

Ons het verlede week gedink oor die twee paaie wat deur die lewe loop. Die eerste is die pad van die sondige natuur, die pad waar ek koning van my lewe is, en gaan net waar ek wil. Hierdie pad loop uit op die dood. Die alternatief is die pad van die lewe, waar Jesus Koning van my lewe is, en waar die uitkoms lewe en vrede is. Paulus moedig ons aan om toe te laat dat die Heilige Gees ons lewe beheers. Hy help ons deur ons aard te kom verander, van sondige natuur tot koningskind. Hy help ons in ons geestelike groei – minder van die ou ek in beheer, meer en meer Jesus se koningskap. Hy gee ons die wysheid en die insig om die regte besluite te maak in die lewe, besluite wat God sal eer, en my en my naaste sal opbou.

Die Gees woon in ons, sê Paulus. Hy is altyd met ons. Ons hoef nie ‘n afspraak te maak om Hom te gaan raadpleeg nie, Hy is onmiddelik beskikbaar en net ‘n gebed ver om ons te help lei, en kies, en groei.

Gebed: Here, dankie dat U deur u Gees in my woon. Dankie Heilige Gees, dat U my aan Jesus as my Verlosser voorgestel het. Dankie dat U my ‘n nuwe mens maak, wat meer en meer soos die beeld van Jesus lyk. Vorm my en maak my net soos U my graag wil hê, dat ek altyd bruikbaar in u diens mag wees. Amen

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS