Bible Society of South Africa

‘n Nuwe begin: Eerste liefde en eerste liefde – 28 Januarie 2022

Deur Louise Gevers

Bybelteks(te)

DIE OPENBARING 2

2Ek weet alles wat julle doen. Ek ken julle onvermoeide arbeid en julle volharding. Julle kan nie slegte mense verdra nie. Julle het ondersoek ingestel na die mense wat voorgee dat hulle apostels is, en dit nie is nie, en gevind dat hulle leuenaars is. 3Verder volhard julle ook; julle het baie vir my Naam verduur, en julle het nie moeg geword nie.

4Maar Ek het dít teen julle: julle het My nie meer so lief soos in die begin nie.

5Dink daaraan hoe ver julle al agteruitgegaan het. Bekeer julle en doen weer wat julle in die begin gedoen het. Anders, as julle julle nie bekeer nie, kom Ek na julle toe en sal Ek julle lamp van sy plek af wegvat!

DIE OPENBARING 2:2-5AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die belangrikste verhouding wat ons in ons lewe kan hê, is ‘n verhouding met Jesus. Hy is die Een wat gesterf het “om die sondes van baie te dra” en wat ” ‘n tweede maal [sal] verskyn aan hulle wat Hom verwag.” (Hebreërs 9:28) Jesus is ons hoëpriester wie ” volkome in staat is om hulle wat deur Hom na God toe kom, te verlos – omdat Hy altyd leef, om ter wille van hulle in te tree. So ‘n hoëpriester was ook vir ons gepas … ” (Hebreërs 7:25-26a)

Sy woorde aan die gemeente in Efese is ‘n bewys van die persoonlike aard van sy verhouding met sy kinders. Hy is altyd bewus van hoe hulle leef en in watter stadium van ontwikkeling hulle hulle bevind. Hy is sensitief vir wat hulle nodig het om te verander en Hy praat baie direk met hulle. Hy vestig hulle aandag op hulle beperkings, en maak dit ook moontlik vir ons om ons eie te ondersoek.

Wanneer twee mense tot mekaar aangetrokke is, en jy lief raak vir die persoon wat eendag jou eggenoot gaan word, begin julle om vir mekaar, en mekaar se behoeftes, om te gee. Goedhartigheid, intimiteit en toewyding groei tussen julle namate julle meer sensitief vir mekaar raak. Dit gebeur ook so in ons verhouding met Jesus.

‘n Mens waardeer altyd jou eggenoot se harde werk, geduld en volgehoue sorg vir jou en jou gesin, insluitend die ekstra dinge, groot of klein, wat hulle doen selfs wanneer hulle moeg is. Maar wat ons die meeste geniet, is die kwaliteit tyd wat hulle met ons spandeer, wanneer hulle liefderik teenoor ons is, met ons gesels en luister na wat met ons gebeur. Waar daar liefde is, is dit lewensbelangrik om vir mekaar om te gee en met mekaar te kommunikeer en een te wees in hart, gedagtes en begrip.

Dit is presies waaroor Jesus se beoordeling van die gemeente in Efese handel. Hy merk op dat hulle werk vir Hom van hoë kwaliteit is, dit wat hulle in die gemeenskap en vir mekaar doen. Hy merk selfs op dat hulle vir Hom gely en swaarkry verduur het. Alhoewel daar baie is wat Hom gelukkig maak, is die een ding wat Hy mis hulle eerste liefde – die manier wat hulle Hom behandel het toe hulle Hom die eerste keer ontmoet en Hom as Verlosser en Here aangeneem het.

Hy onthou hoe gretig hulle was om dikwels met Hom te ontmoet, Hy onthou hulle blydskap, hulle vreugdevolle sang, en hoe hulle tyd gemaak het om dit te doen wat Hom gelukkig maak, en om met elke tree van die pad Hom beter te leer ken terwyl hulle hulle in Hom en sy liefde vir hulle verbly.

Jesus het hulle gewaarsku voordat Hy gekruisig is: “En omdat die wetteloosheid sal toeneem, sal baie se liefde afkoel. Wie egter volhard tot aan die einde, dié sal verlos word.” (Matteus 24:12-13) Jesus waarsku hulle om te onthou waar hulle was, hulle te bekeer en om terug te keer na hulle eerste liefde en om Hom hulle eerste liefde te maak. Oorweeg Johannes se woorde: “Iemand wat sê dat hy in die lig is, maar sy broer haat, is steeds in die duisternis. Wie sy broer liefhet, bly in die lig …” (1 Johannes 2:9-10) “Moenie die wêreld, of wat in die wêreld is, liefhê nie. As iemand die wêreld liefhet, is die liefde van die Vader nie in hom nie.” (1 Johannes 2:15)

Wat sal Jesus sê oor ons liefde vir Hom?

Gebed: Here Jesus, “Wie is daar vir my in die hemel? As ek by U is, begeer ek niks op aarde nie.” (Psalm 73:25) Amen.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS