Bible Society of South Africa

My lewe onder nuwe bestuur – 12 Oktober 2022

Deur Ewald Schmidt

Bybelteks(te)

ROMEINE 8

12Daarom dan, broers, staan ons onder 'n verpligting, maar nie teenoor ons sondige natuur om daarvolgens te lewe nie. 13As julle julle lewe deur die sondige natuur laat beheers, gaan julle die dood tegemoet, maar as julle deur die Gees 'n einde maak aan julle sondige praktyke, sal julle lewe.

ROMEINE 8:12-13AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ons is mense wat deur die Heilige Gees gelei word, en ons het ‘n toekoms van lewe, lewe wat vir altyd gaan hou. Dit is wat die Here so graag vir elkeen van sy kinders wil bied.

As ons dan bewus word van die roepstem van die Here in ons lewe, en ons lees van die kosbare beloftes wat die Here ons in sy Woord gee, dan moet ons ‘n keuse maak.

Paulus wil vir ons vra: as ons dan van beter weet, waarom sal ons voortgaan om die ou pad in die lewe te volg? Waarom sal ‘n mens so hardkoppig wees om self die koning van jou lewe te wees, en jou lewe te regeer volgens jou eie sondige begeertes? Waarom aanhou om altyd jou eie wil na te jaag, en ten alle koste in beheer te probeer bly van jou bestaan? Hierdie pad, die pad van die eie ek, is die pad van die dood. Ons het dit tog self beleef. Daar waar ek buite God se wil beweeg, daar waar ek my eie begeertes najaag ten koste van my naaste, is die gevolge altyd rampspoedig. Ek laat ‘n spoor van verwoesting agter my, as ek toegee aan elke drif en drang wat verby kom.

Die Here is so goed vir ons, en Hy het soveel kosbare gawes wat Hy met ons wil deel. Sy pad is soveel beter. Hy gee lewe, en vrede, deur die Gees. Hy wil die verhouding met God kom herstel, dat ons weer kinders in ons Vader se huis kan wees. Hy wil ons nuut maak, dat ons al meer na die beeld van Jesus sal lyk. Hy wil ons lewens so verander dat ons weer ligdraers in die donker wêreld sal wees, bakens van hoop vir ‘n wêreld wat hoop verloor het.

Daarom vra vandag se teks dat ons God se roepstem sal hoor, en ons lewe weer oorgee aan die beheer van die Heilige Gees. Daar was hopelik in jou lewe alreeds so ‘n eerste oorgawe aan die Here, waarin jy Hom tot Koning van jou lewe verklaar het, en in sy voetspore begin volg het. Dan is daar ook die oorgawe aan sy daaglikse bestuur, in al die keuses wat ek elke dag moet maak. In elke besluit is daar ‘n keuse – gaan dit my sondige natuur beheer gee, of gaan my besluit wegdraai van die sondige natuur om die Here te verheerlik in wat ek doen? Ons maak maar daagliks verkeerde keuses ook. Dit is waar die Here se groot genade inkom. Hy roep ons elke keer weer terug na Hom toe. Ons kan daagliks tot bekering kom, daagliks wegdraai van die foute van ons verlede, daagliks weer kies om Hom te volg op die regte pad.

Gebed: Here, lei my deur u Gees. Ek is nog steeds in hierdie wêreld, en soms maak ek foute, keuses wat U nie verheerlik nie, of wat my naaste seermaak. Lei my deur u Gees om die verkeerde pad te herken, en dadelik terug te draai na die pad van liefde en lewe. Dankie, Heilige Gees, dat U my elke dag op die regte pad wil lei. Amen

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS