Mense is deel van God se plan: God roep na sy skeppings – 3 Mei 2022
Deur Carina Francke
Bybelteks(te)
GENESIS 1
God kan sy doel bereik deur net ‘n woord te sê, of deur van hemelwesens gebuik te maak. Maar Hy verkies om mense as sy medewerkers in te trek. Soms doen Hy dit baie aanskoulik en ander kere sonder dat die mens daarvan bewus is.
In hierdie reeks dagstukkies gaan ons saam ontdek hoe God sedert die skepping, na die sondeval, tydens Jesus se lewe op aarde, en ook in die nou, nog altyd betrokke by die mens se lewe is. Want mense is deel van God se plan! Weliswaar nie op die maniere aan ons bekend nie, maar op ‘n kreatiewe, Goddelike inisiatief wat die kollig op sy betrokkenheid laat val.
Na die aanplanting van die tuin van Eden, in die Ooste, het God die mens Adam in die tuin aangestel om dit te bewerk en te bewaak. Alleen. Sonder hulp. Nie maklik vir enige mens nie. Die alwetende God by hom, word egter nie onkant betrap nie. Terwyl Adam ‘n Goddelike, diep slaap geniet, skep God sy hulp en gelyke vir hom. Nogal uit ‘n ribbebeen wat Hy uit Adam se sy haal (en gelukkig met vleis opvul). ‘n Pasmaat – sy vrou. Hy bring haar na die mens Adam en gee haar vir hom. En siedaar, ‘n paartjie wat naak, sonder selfbewustheid en skaamte voor God en mekaar, in ‘n Godbestemde verhouding kon staan en saamleef. God is waarlik by die mens! (Genesis 1 en 2)
Maar toe gebeur die sondeval en hulle móét toemaak. Hulle kruip weg; hul naaktheid sigbaar vir God en hulleself. Selfgemaakte vyeblaarskorte en wegkruip doen nie die ding nie, want: “die Here God (by hulle) het na die mens geroep en vir hom gevra: “Waar is jy?” (Genesis 3:9) Daarna klee Hy hulle met rokke van dierevel, en stuur hulle weg uit die tuin van Eden “om die aarde te bewerk, die aarde waaruit hy gemaak is.” (Genesis 3:23) Om die mens teen homself te beskerm, maak God seker dat niemand ooit weer self van die boom van die lewe eet nie. Hy het oos van die tuin van Eden gerubs gesit, en ook ‘n vlammende swaard wat heen en weer beweeg.
Waarom oos? Dit is ‘n rigting wat in verskeie Skrifgedeeltes geasosieer word met ‘n wegdraai, of ‘n vertrek weg van God.
Soms staan ons ook naak en gestroop van ons waardigheid en selfbeeld. Ons maskers van voorgee, flap verfrommel en verflenter aan ons ore rond. Die lewe het gebeur en ons staan rug teen die muur. Wie is te blameer? Gewoonlik nie jy nie, maar iemand anders. Sowaar? Dit is in sulke tye dat die mens God blameer en probeer wegkruip. En dan onthou jy: “Waarheen sou ek gaan om u Gees te ontvlug … om aan u teenwoordigheid te ontkom? (Ps 139:7,10).
Gebed: My Skepper, dankie vir die onwankelbare sekerheid dat U altyd IS! Al kruip ek weg, U soek en vind my. En as ek roep, hoor U en tree nader om my hand te vat. Skenk my die krag om nooit welwetend van U af weg te draai nie. Amen