Kinders van God – 14 Oktober 2022
Deur Ewald Schmidt
Bybelteks(te)
ROMEINE 8
Wat beteken dit prakties om in God te glo? Daar is baie mense wat slegte ervarings in godsdiens gehad het. Hulle het die Here om watter rede ook al gesien as hierdie wrede Figuur êrens in die heelal wat ons lewens so dophou, en nie kan wag om ons te straf as ons ons voet verkeerd sit nie. Daarom is baie mense so bang vir God. Hulle is bang Hy gaan sy sweep klap, en hulle pret in die lewe bederf.
Waar kom hierdie vrees vandaan? Floyd McClung het ‘nbaie interessante teorie in sy boek The Father heart of God. Uit sy werk as sendeling in Amsterdam se rooiliggebied het hy tot die gevolgtrekking gekom dat mense onbewustelik vir God sien soos wat hulle hul eie menslike pa beleef het. As my menslike pa afwesig was, of my mishandel het, hoe sal my Hemelse Vader dan anders wees? Die rolmodel in my lewe het my dalk in die steek gelaat om God as liefdevolle Vader aan my bekend te stel.
Wanneer die Gees in ons lewe werk, dan kom wys Hy vir ons die ware karakter van God. Ons leer van sy liefde, sy vergifnis, en sy wens om ons lewens te kom restoureer en seën. Ons hoef nie ons Hemelse Vader te vrees, soos in bang wees vir Hom nie. Wanneer ons kinders van God is, laat Hy ons bid tot ons Vader in die hemel soos ‘nGriekse kind in Paulus se tyd sy pa sou aanspreek: Abba! Vader. Pappa. ‘nNaam van verhouding, van geborgenheid en veiligheid.
Johannes sou jare later baie mooi hierby aansluit in 1 Johannes 4:16-19 “God is liefde; wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom. Hiérin het die liefde sy doel volkome met ons bereik: ons het niks te vrees vir die oordeelsdag nie, want in hierdie wêreld lewe ons reeds deur die liefde net soos Jesus. Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie. Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het.”
Dis ons Vader – Hy het ons eerste liefgehad, en daarom kan ons sonder vrees vir Hom lewe.
Gebed: Here, dankie dat U ‘ngoeie Vader is. Dankie dat ek altyd by U welkom is! Dankie vir u vergifnis, en u Vaderhart vir my. Dankie dat U vir my lewe in oorvloed gee! Dankie vir al u goedheid in my lewe elke dag. Amen