Jesus is koning – 12 September 2022
Deur Ben Fourie
Bybelteks(te)
MATTEUS 16
Op die berg van verheerliking is daar al ’n voorsmaak van wat Jesus in bogenoemde vers bedoel. Direk na hierdie aankondiging lees ons in hoofstuk 17 van Jesus se verheerliking. By hom is Petrus, Jakobus en Johannes. Voor hulle oë verander hy van gedaante, sy gesig blink soos die son en sy klere word spierwit soos lig. Uit ‘n helderligte wolk kom daar ook ’n stem wat sê: “Dit is my geliefde Seun, oor wie Ek My verheug”.(Matteus 17:5b) Ook Pilatus sou onwetend bydra tot wat Jesus in ons teksvers van praat wanneer hy by die kruis ’n opskrif laat aanbring: “Hy is Jesus, die koning van die Jode.”
Die koninkryk van die hemele kan immers nie so genoem word as daar nie ’n koning aanwesig is nie. Dwarsdeur Jesus se hele bediening is dit waarop alles afstuur; Jesus se troonbestyging. Die pad daarheen was egter nie met rose besaai nie, inteendeel die eerste kroon was van dorings gevleg en die “onderdane” het op hom gespoeg en met die riet wat as bespotting in die plek van ‘n septer in sy hand gesit is, het hulle hom herhaaldelik oor die kop geslaan. Vreemd genoeg is die enigste een wat iets begryp het van wie Jesus werklik is, een van die misdadigers wat saam met hom gekruisig is: ‘“Jesus dink aan my wanneer U in u koninkryk kom!”’ (Lukas 23:42)
Selfs die heel getrouste volgelinge het nog nie begryp nie, selfs nie toe hulle vroeg die Sondagoggend by die leë graf opdaag nie. Hulle staan verdwaas daar rond en begryp nie dat hier by die leë graf is die laaste vyand, die dood, finaal verslaan nie. Van hier af kan Jesus soos alle konings, wat die finale veldslag gewen het, oorwinnend uittrek. Dit het egter ’n Hemelvaart en ’n Pinkster geverg om hulle finaal te laat verstaan.
Terwyl die dissipels hand voor die oë na die hemel opkyk na waar Jesus met sy hemelvaart verdwyn, het sy woorde in ons teksvers waar geword. Die meeste van hulle was nog in die lewe om sy troonbestyging te kon belewe. By die wederkoms sal Hy as die koning oor alles sigbaar word.
Gebed: Ons dank U Here Jesus dat U die Koning van alle konings is en dat U tot in ewigheid sal regeer. Amen