Hoop en dankbaarheid: God weet wanneer – 25 Februarie 2022
Deur Charlea Sieberhagen-Grey
Bybelteks(te)
PREDIKER 3
Elke ding het sy vaste tyd
Wanneer ’n mens dink aan die teleurstellings wat ons so dikwels moet oorkom en al die verandering waaraan ’n mens gewoond moet raak, is die een stukkie troos waaraan ons kan vashou, die kennis dat God weet wanneer die beste en regte tyd is vir dinge om in ons lewens te gebeur.
Dit kan soms baie frustrerend raak, want ons as mense wil mos dikwels ver vooruit beplan en ons wil eintlik self bepaal hoe en wanneer dinge moet gebeur. Ons glo mos maar meestal dat ons self weet wanneer wat nodig is of wat ons wanneer wil hê.
Tog het ek, en ek is seker jy ook al, geleer dat die lewe helaas nié so werk nie. Ons kan beplan en besluit hoe ons dinge gaan doen, maar op die ou einde gebeur die lewe en dit is nie noodwendig presies soos ons altyd wil hê nie.
Een van die wonderlikste dinge wat ek wel al geleer het, is dat wanneer ek terugkyk, ek eintlik besef dat die regte dinge op die regte tyd gebeur het. Wanneer ’n mens in die oomblik leef kan ons mos nie verstaan hoekom dinge nie dadelik gebeur soos ons graag wil hê nie. Dan wonder ons mos maar gefrustreerd hoekom dinge is soos wat dit is.
Die Bybel herinner ons in Prediker dat daar vir alles in die lewe ’n tyd is. Ja, ongelukkig is daar ook tye wanneer ons deur swaarkry gaan. Maar ons kan selfs dán bly vashou aan die wete dat God ook die moeilike tye sal gebruik om iets goed in ons lewens te doen. Dít is deel van die wonder om Hom te ken en sy kind te wees. God gebruik die verskillende tye in ons lewens om ons te laat groei en sterker te maak.
En God weet altyd wat die beste vir ons is. Hy weet hoe om die oppe en affe van die lewe ten goede te gebruik. Hy weet ook wanneer sekere dinge in ons lewens nodig is – ook vir die maande wat wag.
Gebed: Hemelse Vader, help my om hierdie jaar ook te vertrou dat U die regte dinge in my lewe op die regte tyd sal laat gebeur. Dankie dat U ook die moeilike tye in my lewe gebruik om goeie dinge in my lewe te doen. Amen