Goeie vis en slegte onkruid – 11 Maart 2022
Deur Xanthe Hancox
Bybelteks(te)
MATTEUS 13
Ons het hierdie week gekyk na van die gelykenisse wat oor die koninkryk handel. Gelykenisse wat handel oor die waarde van die koninkryk van die hemele, oor die prys wat Jesus betaal het sodat ons sy koninkryk kan ingaan, en ook oor God se eindelose geduld en genade. Maar daar is ander koninkrykbeginsels wat God se oordeel oor sonde en boosheid aanspreek wat ons nie kan ignoreer nie.
Jesus se gelykenisse sluit stories in oor die Here wat by die laaste oordeel onkruid van die koring sal skei en ook oor ‘n visnet waar eetbare vis geskei sal word vanvan dié wat onbruikbaar is. In die koninkryk sal daar skeiding wees en die Here is die Een in beheer van die oordeel.
Vis weet nie of hulle gehou of weggegooi gaan word nie. Maar Jesus ken sy vis. Hy kan deur ons fasades sien, Hy ken ons harte, Hy weet of ons op Hom vertrou of nie. En anders as die geval met vis, kan ons die versekering hê dat ons nie wanneer die finale oordeelsdag aanbreek, weggegooi gaan word nie. (Lees Jesus se woorde aan Marta in Johannes 11:25-26 as jy vandag na daardie versekering verlang.)
Goeie en onbruikbare vis, koring en onkruid – Jesus herinner ons daaraan dat Hy kan sien wat in ons harte is. Hy herinner ons ook aan die koms van ‘n finale oordeelsdag wanneer goed en kwaad vir ewig van mekaar geskei sal word.
Die komende oordeel leer ons ook om selfsugtige plesier eenkant te sit en te kies om te doen wat reg is in God se oë en wat ewigheidswaarde het. Deur God se genade en krag kan ons dit doen.
Gebed: Hemelse Vader, lei ons om daagliks vir U te leef. Gee dat ons lewens van toegewydheid aan Jesus Christus, ons getroue Verlosser, sal getuig. Amen