God praat in drome met Josef – 2 Desember 2022
Deur Carina Francke
Bybelteks(te)
MATTEUS 1
Die geboorte van Jesus Christus
Die profeet Jesaja maak in sy leeftyd reeds bekend dat ‘n jong meisie (‘n maagd) op ‘n bepaalde Gods-tyd, ‘n Seun in die lewe sal bring. “Die maagd sal swanger word, en ‘n Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem. Die naam beteken God by ons.” (Jesaja 7:14)
Anders gestel: Jesus was God in die vlees; God letterlik onder ons, met ons. En vandag? Vandag is Hy deur die Heilige Gees betrokke in elke Christus gelowige se lewe.
Jy kan seker ‘n idee vorm van Josef se reaksie toe hy hoor dat Maria, sy verloofde, swanger is. As getroue onderhouer van die wet van Moses, het hy geweet dat hy nie vir haar toestand verantwoordelik is nie. Maar wat staan hom te doen? Hy wil haar nie in die openbaar tot skande maak nie! Hy besluit om stilweg die verlowing te verbreek. Vanuit sy oogpunt ‘n eerbare besluit, maar vir Maria kan dit haar lewe kos.
Die Here gryp in. Die Engel van die Here verskyn in ‘n droom aan Josef en deel die Goddelike nuus met hom dat die lewe wat in Maria verwek is, nie deur ‘n mens is nie, maar uit die Heilige Gees! Hy hoef dus nie bang te wees om met haar te trou nie, want, sê hy: “die Seun wat sy in die wêreld sal bring, sal sy volk van hulle sondes verlos. Jy moet Hom Jesus noem.” (Matteus 1:21) “Toe Josef uit die slaap wakker word, doen hy wat die engel hom beveel het: Hy trou met Maria. Hy het egter nie met haar omgang gehad voordat sy haar Seun in die wêreld gebring het nie. En Josef het Hom Jesus genoem – soos die engel Hom beveel het.” (Matteus 1:24-25)
Hierdie engel van die Here is ook God se boodskapper wat Josef deur drome op hoogte hou van enige gebeure wat Maria en haar Seun Jesus raak. Josef was instrumenteel in die beskerming van Maria en haar Seun Jesus. Toe koning Herodus die kindermoord-bevel op seuns van twee jaar en jonger uitvaardig, het die engel betyds in ‘n droom aan Josef opdrag gegee om met Maria en die Kindjie na Egipte te vlug en daar te bly totdat hy nuus bring dat dit veilig is om terug te keer. (Matteus 2:13)
Na die dood van Herodus kom die engel van die Here (weer in ‘n droom), na Josef in Egipte en gee hom ‘n nuwe opdrag: hy moet Maria en die Seun terugneem na die land Israel waarvandaan hulle kom (Matteus 2:13-23). Josef huiwer. Herodus se seun regeer nou oor die streek Judea. Wat as dit ‘n geval van aartjie na sy vaartjie is? God Self wys egter in ‘n droom aan Josef om in die landstreek Galilea te gaan woon. Daar aangekom, gaan woon hy in die dorpie Nasaret. En so vervul hy die profesie dat Jesus Nasarener genoem sal word.
Wat ‘n liefdevolle hemelse Vader het die gelowige nie! Hy Self sorg dat die planne wat Hy vir sy geliefde kinders het, tot uitvoer gebring word. Maar dan moet jy en ek fyn luister om sy stem te hoor en dan gehoorsaam daarvolgens op te tree. Jy hoef nie terug te deins vir probleme of gevaar nie. Jou Vader wat alles weet, is ook jou Hulp en sal tot jou redding kom!
Gebed: Hemelse Vader, dankie dat U betrokkenheid by die mens nog nooit opgehou het nie. Dankie dat ons mag droom, maar meer nog, dankie dat U koers aandui sodat ons nie u droom vir ons lewens laat ontspoor nie. Dankie vir engele wat ons afdwaalvoete weer op die regte koers plaas sodat ons die pad van u Gees kan loop. Amen