Bible Society of South Africa

Genade: Kragtige woorde – 22 November 2022

Deur Louise Gevers

Bybelteks(te)

EFESIËRS 4

2Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig, en verdra mekaar in liefde.

EFESIËRS 4:2AFR83Maak oop in die Bybelleser

‘n Ma vertel onlangs op sosiale media van haar twee kinders wat gestry het oor ‘n onsigbare fiets wat die 7-jarige nie met die ander een wou deel nie. Sy sê toe vir haar 3-jarige dat sy op haar eie onsigbare fiets kan ry en nie haar suster s’n nodig het nie. Die kleintjie het op die grond neergeval en al huilende gesê: “Maar ek wil hare hê.”

Hierdie storie beklemtoon die kompleksiteit van die menslike natuur reeds van ‘n vroeë ouderdom en bewys die krag van eiebelang en hardkoppigheid wat in woordewisselings kan voorkom. Dit begin vroeg in die gesin en dan spoel dit oor in ander lewensfasette, en as dit toegelaat word om ongekontroleerd voort te gaan, kan dit tot veel groter probleme lei as net ‘n bakleiery oor onsigbare fietse. Die geskiedenis bewys dit en die Kerk was nie uitgesluit nie.

In sy tyd het koning Salomo reeds wyse raad vir sodanige situasies gegee: ” ‘n Sagte antwoord laat woede bedaar; ‘n krenkende woord laat woede ontvlam.” (Spreuke 15:1) Hierdie raad is baie effektief, maar nie maklik in die hitte van die oomblik nie, want dit benodig ‘n gees van nederigheid en selfbeheersing terwyl die ander persoon miskien op jou skreeu en jou beledig.

Deur ons eie mening terug te hou, of dit nou reg of verkeerd is, en die ander persoon toe te laat om sy sê te sê, en nie, al maak dit seer, terug te kap nie sal ons deur genade alleen ‘n sagte antwoord vind wat die woede sal laat bedaar en die situasie ontlont.

Salomo sê ook: ” ‘n Voltooide taak is beter as een wat pas begin is. Geduld is beter as hoogmoed.” (Prediker 7:8) Hier beklemtoon hy die behoefte om geduldig te volhard om kwessies op te los, aangesien dit dikwels tyd neem om die ander persoon se mening te verstaan en ook watter probleme dalk veroorsaak het dat hy hom in hierdie posisie bevind.

Paulus sê vir die Kolossense: “Julle is die uitverkore volk van God wat Hy baie liefhet. Daarom moet julle meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam wees.” (Kolossense 3:12) en hy leer die Galasiërs, wat baie meningsverskille onder hulle gehad het, dat: “Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie.” (Galasiërs 5:22-23)

Hoe moeilik is dit nie wanneer ons op ons eie probeer om dit reg te kry nie, maar wanneer ons werklik ons Here wil dien moet ons onthou: “[Ons] is tot alles in staat deur Hom wat [ons] krag gee. (Filippense 4:13)

Die volgende lied het ons baie keer in ons jeuggroep met oorgawe gesing, met harte wat warm klop en met die hoop dat ons deur ons liefde vir Jesus Christus ‘n verskil in die wêreld kan maak. Die eenvoudige woorde het ons bemoedig, en dit geld vandag steeds vir gelowiges:

“We are one in the Spirit; we are one in the Lord,
And we pray that all unity may one day be restored;
And they’ll know we are Christians by our love, by our love
Yes, they’ll know we are Christians by our love.”

Gebed: Here, gee dat die vrug van u Gees deur u liefde wat in ons werk, sigbaar sal wees en gee dat ons deur u genade verenig sal wees. Amen

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS