Doelwitte en voornemens: Geduld – 7 Februarie 2022
Deur Charlea Sieberhagen-Grey
Bybelteks(te)
ROMEINE 12
Geduld is ’n wonderlike eienskap maar beslis een van die skaarser eienskappe in hierdie tyd waarin ons leef. Ons leef in ’n tyd van onmiddellike bevredeging, of soos mens in Engels sou sê, “instant gratification”. Mense wil hul behoeftes en begeertes onmiddellik bevredig. Nie later nie. Nie oor ’n week of oor ’n jaar nie. Nóú. Dadelik.
Dit wys eintlik ook hoe gemaksugtig ons geword het. As ’n toestel in die huis breek voel baie mense dit moet onmiddellik vervang word (verkieslik met ’n beter een!) eerder as wat hulle die TV of mikrogolfoond sal vat om reggemaak te word. Want dit sal beteken jy moet dalk ’n dag of ’n week daarvoor wag.
In Galasiërs 5:22 lees ons dat geduld ’n belangrike “vrug van die gees” is: “Maar as die Heilige Gees mense se lewens regeer, dan doen hulle goeie dinge: Hulle is lief vir ander mense, hulle is bly, hulle maak vrede, hulle is geduldig…” (ABA)
Die Covid-19-pandemie wat twee jaar terug ons wêreld skielik op sy kop kom draai het is ’n baie goeie voorbeeld van hoe ons geduld in moeilike tye getoets word. In tye van verskriklike onsekerheid moes ons geduldig wag en wag en wag. Ons moes geduldig wag vir die grendeltyd om gelig te word. Onthou jy nog daardie vyf lang weke van tuisbly en wag en onsekerheid? Ons moes wag vir wetenskaplikes om ’n entstof te ontwikkel. Ons moes wag vir inperkingsregulasies om stelselmatig te verslap. En ons wag steeds vir die dag wat ons weer heeltemal sonder maskers kan rondbeweeg. Oraloor is mense wat steeds op hete kole sit en wag om te kyk hoe die pandemie hul werksomstandighede gaan beïnvloed, indien dit nie reeds het nie.
Dis frustrerend en ja, ons almal se geduld is die afgelope twee jaar getoets en dit is ongelukkig nog nie heeltemal verby nie.
Maar God beloof oor en oor in die Bybel dat daar uitkoms sal wees ná swaar tye. Die moeilike tyd sal wel verbygaan, selfs al voel dit nie vir ons op die oomblik so nie. Ons moet net geduld kweek en aanhou om daaroor te bid.
Gebed: Almagtige God, dankie dat U steeds met ons is in onsekere tye. Help ons om vas te hou aan u belofte dat swaar tye ook verby sal gaan en dat U uitkoms sal bied. Help ons om geduldig te wees wanneer ons sukkel om moed te hou. Amen