Bible Society of South Africa

Doelwitte en voornemens: Bly kalm – 14 Februarie 2022

Deur Charlea Sieberhagen-Grey

Bybelteks(te)

JAKOBUS 1

Hoor en doen

19My liewe broers, dít moet julle in gedagte hou: elke mens moet maar te gewillig wees om te luister, nie te gou praat nie en nie te gou kwaad word nie.

JAKOBUS 1:19AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ons het ’n paar dae terug gelees dat die Bybel ons aanmoedig om nie te gou kwaad te word nie – dat ons voortdurend moet probeer om sagmoedig te wees teenoor ander mense. As ons verder lees in Galasiërs 5:22-23 hoor ons dat die laaste “vrug van die Gees” selfbeheersing is. Ja, om jouself te kan beheer en kalm te bly.

“Maar as die Heilige Gees mense se lewens regeer, dan doen hulle goeie dinge: Hulle is lief vir ander mense, hulle is bly, hulle maak vrede, hulle is geduldig, vriendelik en goed, hulle doen wat hulle belowe, hulle word nie maklik kwaad nie, hulle bly kalm.” Galasiërs 5:22-23, ABA)

Vir my gaan sagmoedigheid en selfbeheersing tot ’n groot mate hand aan hand.

Ek dink in die wêreld waarin ons vandag leef, is selfbeheersing so ’n belangrike en mooi eienskap. Juis omdat elke dag so stresvol kan wees en ’n mens dikwels gefrustreerd voel oor die swaarkry en moeilikhede van die lewe. Boonop leef ons teen so ’n vinnige pas – alles moet vinnig en onmiddellik gebeur. Soveel so, dat ons soms vergeet om net partykeer ’n tree terug te neem voor ons optree of reageer.

Die Bybel moedig ons aan om altyd gereed te wees om na God se boodskap te luister. Net so glo ek, moet ons leer om te luister na wat ons geliefdes en kollegas vir ons sê – nie luister om net dadelik weer te antwoord nie, maar luister om te hóór. En dán te dink oor hoe en wat ons gaan antwoord.

Daar is mos die gesegde in Afrikaans: Haastige hond verbrand sy mond. Wanneer ons haastig en sonder selfbeheersing optree, doen en sê ons dikwels dinge wat kon gebly het. En God het natuurlik van die begin af ons menslike aard geken, die dat Hy ons aanmoedig om kalm te bly en te dink voor ons doen of praat.

Gebed: Vader, help my om hierdie jaar met kalmte en selfbeheersing aan te pak. Help my om kalm te bly wanneer ek myself in moeilike situasies bevind sodat ek op die regte manier kan optree en so ook u Naam kan verheerlik. Amen

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS