Die Woord is volmaak – 9 Desember 2022
Deur Carina Francke
Bybelteks(te)
PSALMS 19
Van min dinge in hierdie wêreld kan gesê word dat dit volmaak is. En as daar wel êrens iets of iemand gevind word wat aan die “volmaakte” voldoen, kan jy maar te wagte wees: die krakies wag net om die draai. Pessimisties? Ja! Mensehande het dit immers hanteer!
Daarom is ek so dankbaar dat hierdie Skrifvers nie daar ophou nie. Die krag vir die volmaaktheid van die Wet (Woord) lê in die feit dat dit die Here se volmaakte Woord/Wet is en nie ‘n mens s’n nie! Daarom gee dit lewe! (Psalm 19:8)
In die Woord is dit die Here se onderwysing/lering wat wysheid aan die onervarene gee; (v8) Die bevele van die Here dui koers aan.(Psalm 19:9) En raai wat? Blydskap is die vrug daarvan (v9); Jy twyfel nie oor sy gebod nie – dit is helder en gee insig (v9). Die eise vir sy diens is goed – dit staan altyd vas (Psalm 19:10). Die Here se bepalings is reg; elkeen is regverdig. (v10b)
Laat jou gedagtes vir ‘n oomblik stilstaan by dié lewegewende waarhede. Dink bietjie na oor wat hierbo geskryf staan en beantwoord dan die vraag: het jou gesindheid t.o.v. die Here se verwagtinge vir jou lewe volgens die Woord, raakpunte met dié soos hierbo beskryf? Of is jou gehoorsaamheid aan sy verwagtinge, maar so-so? Dalk omdat jy nie die Woord in jou hart bêre nie?
Vir die persoon in hierdie dagstukkie, is die bepalings van sy Heer kosbaarder as goud, selfs as baie fyn goud. (Ps.19:11). Dit is vir hom selfs soeter as heuning en heuningstroop. (v11b) En ja, dit is nie net mooipraatjies nie, hy laat hom daardeur leer en lei. Want, weet jy, God se belofte aan sulke diensknegte/kinders, klink so: “Wie alles onderhou wat gesê is, moet weet: daar wag ‘n groot loon!” (Psalm 19:12)
Kan jy sien en verstaan waarom die Woord bo alles gestel is? Die outeur daarvan is God self! Die inhoud is outentiek, onkreukbaar en uiters betroubaar! Woorde in die Woord, kom uit die wese van God self. Doen bietjie selfondersoek en beantwoord hierdie vrae: 1. Bêre ek God se Woord in my hart? 2. Oordink ek dit met die wete dat die Heilige Gees my verstand kan verlig sodat ek die Woordwaarhede (die goue klonte) in my hart kan bêre en daarvolgens begin leef?
Gebed: Ons hemelse Vader, in ‘n haastige en vinnig-veranderende wêreld, kniel ek voor U en vra nederig vergifnis vir my gebrek aan diep kennis van u Woord. Stel my in staat om u Woord die enigste Lig in my lewe te maak en daarvolgens my lewe te leef. Amen