Bible Society of South Africa

Die wet van die Gees maak my vry! – 4 Oktober 2022

Deur Ewald Schmidt

Bybelteks(te)

ROMEINE 8

2Die wet van die Gees wat aan jou in Christus Jesus die lewe gee, het jou vrygemaak van die wet van sonde en dood. 3Wat die wet nie by magte was om te doen nie, omdat dit weens ons sondige natuur te swak was, dit het God gedoen. Hy het met die sonde afgereken deur sy eie Seun in dieselfde gestalte as die sondige mens te stuur; so het Hy die sonde in die sondige bestaan van die mens veroordeel.

ROMEINE 8:2-3AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die mens se grootste probleem is ‘n stukkende verhouding met God. God is heilig, en sonde is dit wat buite sy wil is. Ons is gemaak om in ‘n verhouding met God te lewe as sy kinders, en Hy wil vir ons seën en sorg. Sonde is die rebellie teen God se gesag in my lewe. My sondige natuur is my drang om self in beheer te wees, en altyd my eie kop te volg.

Dit is nie binne ons vermoë om die verhouding met God van ons kant af te herstel nie. Baie mense het dit probeer doen. Hulle het die wet van Moses so goed as moontlik probeer onderhou. Maar keer op keer loop hulle hulle vas in ons menslike aard – ons bly maar gebore rebelle!

God is vir ons so lief dat Hy namens ons die oplossing vir ons bestaanskrisis gegee het. Hy het sy Seun gestuur om een van ons te word. Omdat Jesus sonder sonde was, kon Hy die sonde van die mensdom op Hom neem, en die prys daarvoor aan die kruis gaan betaal. God is heilig, en die loon van die sonde is die dood. (sê Romeine 6:23) Maar Jesus het daardie dood in ons plek kom sterf, en die oordeel van sonde ten volle gedra.

Die wet van Moses het vir ons gewys wat sonde is. Dit het kom onderstreep dat ons nie in staat is om onsself te red nie. Maar Jesus het ons kom red. Wanneer ons in Hom glo, ontvang ons die Heilige Gees. Hy neem beheer van ons lewens. Die wet van die Gees gee vir ons die lewe, ons gaan in volgende sessies meer daaroor gesels. Die Heilige Gees het ons oortuig dat Jesus die Here is. Ons het aan Hom oorgegee dat Hy koning van ons lewens mag wees. Daardeur is ons vrygespreek van die vloek van sonde en dood. Nou is die Heilige Gees besig om die nuwe lewe, “in Christus” in ons op te bou. Hy kom herstel ons na die beeld van God.

Gebed: Here, dankie dat U deur u Gees ‘n nuwe mens in my tot stand bring. Ek kon myself nie red nie, maar U het, Here Jesus. U het namens my gesterf, en die prys vir my betaal. Dankie dat U deur u Gees in my woon, en my ‘n nuwe mens maak. Help my om deur u krag die ou mens in my, die rebel, te oorwin. Vorm my na u beeld. Amen

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS