Bible Society of South Africa

Die koninkryk maak wonderwerke moontlik – 19 September 2022

Deur Ben Fourie

Bybelteks(te)

HANDELINGE 8

12Maar toe Filippus die evangelie van die koninkryk van God en die Naam van Jesus Christus aan hulle verkondig het, het hulle gelowig geword, en mans sowel as vrouens is gedoop.

HANDELINGE 8:12AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die van u wat gereelde lesers van ons Vers-’n-dag stukkies is, sal dalk onthou dat ek in Junie geskryf het oor hoe bly die apostels in Jerusalem was toe hulle hoor dat ook die Samaritane die boodskap oor Jesus Christus aanvaar het. Vandag gaan ons so ‘n entjie terug op die pad van die hierdie gebeurtenis en vra hoe dit gebeur het dat hulle wel die woord van die Here aanvaar en geglo het. Wat presies het Filippus aan hulle vertel en wat was die aanloop tot dit alles?

Dit het alles begin met die groot vervolging van die gemeente in Jerusalem waarby Saulus ook betrokke was. Deur die geweldige vervolging is al die gemeentelede behalwe die apostels oor die hele Judea en Samaria verstrooi, onder wie ook Filippus. Dit was nie die apostel Filippus nie, maar Filippus die diaken. Hy was een van die sewe verkose diakens van wie ons in Handelinge 6:1-7 lees dat hulle uitgesoekte manne was. ‘n Voorvereiste vir die amp van diaken was dat hulle vol van die Heilige Gees en wysheid moes wees.

So beland Filippus, vol van die Gees, dan in ‘n Samaritaanse stad waar hy onmiddellik begin om die evangelie van die koninkryk van God in en deur Christus aan hulle te verkondig. Daar was aanvanklik kompetisie, want ‘n sekere Simon het as towenaar groot aansien onder die mense in die stad geniet omdat hy hulle met sy kulkunsies verbyster het. Maar selfs hy was nie bestand teen die kragtige werking van die evangelie van die koninkryk van God nie, want anders as by sy toorkunsies het hier regte wonderwerke plaasgevind waar onrein geeste uitgedryf en lammes en kreupeles genees is.

Die koninkryk van God soos Filippus dit verkondig het, het uitgeloop op die bevestiging van God se heerskappy oor bose magte en siekte. Mense word aangegryp en word gelowig deur wat hulle hoor en sien en word dan gedoop. Aan God al die eer.

Gebed: Here ons bid dat U ons opnuut onder die groot krag van u koninkryk sal bring. Amen

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS