Die koninkryk eerste – 6 September 2022
Deur Ben Fourie
Bybelteks(te)
MATTEUS 6
In die twee verse wat ons vers van die dag voorafgaan, sê Jesus duidelik ons moet ons nie oor die daaglikse dinge soos kos en klere bekommer nie, want dit is hoe ongelowiges oor die lewe dink. Kom ons wees maar baie eerlik met mekaar en bely dat ons wel almal sukkel om elke dag sonder bekommernis te wees oor die stoflike dinge. ‘n Mens kan tog nie erge werkloosheid in die land, verlies van jou eie werk, die oorlog in die Oekraïne wat, behalwe die menslike lyding, ook alles baie duurder laat word, ignoreer nie. Kyk maar na die prys van brandstof. Dan is daar nog stygende inflasie en beurtkrag. Ouer mense is dikwels bekommerd of hulle pensioen en mediese voorsiening genoegsaam is.
As jy dan hoor wat Jesus hier sê, voel jy ontoereikend in jou geloof, jy voel asof jou geloof maar baie klein is en ver tekortskiet in wat Jesus van jou verlang. Tel dan nog baie erger dinge by waaroor jy jou kan bekommer as net brood en klere, dinge soos ‘n kind wat sukkel met skoolwerk, ‘n broer of suster wat nie die Here ken nie, siekte en nog baie meer.
Bedoel Jesus werklik hier dat ons elke dag totaal en al kommervry deur die lewe moet gaan? Ek dink nie so nie. In hierdie hele gedeelte wil Jesus twee maniere hoe ‘n mens na die lewe kan kyk in kontras met mekaar stel.
Die eerste is ‘n lewe aan jouself gewy en daarom noem Jesus dit dan ook iets waarna die heidennasies soek. Dit is ‘n lewe waar alles oorheers word deur jou strewe na die wêreld se dinge. Met kos en klere word nie letterlik net dit wat jy eet en aantrek bedoel nie, maar jou totale materiële welvaart.
Die tweede wat hiermee in kontras staan is ‘n lewe wat gewy word aan ‘n soeke na die koninkryk van God. Dit is ‘n lewe wat daarna soek om onder heerskappy van God te staan in teenstelling met ‘n lewe onder heerskappy van die materiële.
Gebed: My gebed vandag is dat U my tevrede sal maak met dit wat ek het, maar my ontevrede sal maak met hoe ver ek al op die pad van die koninkryk gevorder het. Help my daarom om elke dag te bly soek sodat u koninkryk al meer in my lewe sigbaar sal raak. Amen