Bible Society of South Africa

Belofte van die koninkryk – 29 September 2022

Deur Ben Fourie

Bybelteks(te)

JAKOBUS 2

5Luister, my liewe broers! Kies God nie juis dié uit wat in die oë van die wêreld arm is, om ryk te wees in die geloof en om die koninkryk in besit te neem wat Hy belowe het aan dié wat Hom liefhet nie?

In ons huisgesin is die uitdrukking – belofte maak skuld – nie maar net nog ‘n idioom nie. Ons glo daaraan. So het ons die kinders geleer en so leer ons ook ons kleinkinders. As jy ‘n belofte gemaak het, moet jy daarby hou. Dit is natuurlik ook ‘n Bybelse gedagte. In Prediker 5:3 sê die Prediker byvoorbeeld oor ‘n gelofte wat ‘n mens aan God gedoen het: “Wat jy ook al beloof – betaal dit”. Dit geld nie net geloftes of beloftes aan God nie, maar ook teenoor ander mense. Veral geld dit van beloftes wat God aan die mens gemaak het en natuurlik nog maak. ‘n Mens dink hier onwillekeurig aan die groot verbondsbeloftes wat God aan Abraham en sy nageslag gemaak het, en wat God altyd nagekom het.

In die teks uit Jakobus lees ons van God wat kies en God wat beloof. Die Jakobus wat hierdie brief skryf, is die broer van die Here Jesus. Hy rig sy brief spesifiek aan die “twaalf stamme in die Diaspora” dit wil sê die in verstrooiing, maar die brief staan ook as een van die algemene briewe bekend omdat dit op ons almal betrekking het. Jakobus se twaalf stamme is nie die hele Joodse volk wat ook op daardie stadium oor die wêreld verstrooi was nie, maar eerder die Christen Jode wat vanweë die groot vervolging in Jerusalem gevlug het en nou oral in die wêreld gewoon het.

Vir Jakobus is dit baie belangrik dat daar geen onderskeid tussen mense gemaak word nie. Die een met die baie goue ringe en pragtige klere is in die Here se oë niks meer werd as die een met die verslete klere nie. God kies die wat arm is aan besittings om ryk te wees in die geloof en maak van hulle erfgename van die koninkryk. Ons moet natuurlik nooit aflei dat mense wat baie besit nie ook gekies word nie. God beloof sy koninkryk volgens ons teksvers aan “hulle wat hom liefhet”. Die kriteria om erfgenaam te wees is dus nie ryk of arm nie, maar liefde vir God en as ‘n mens hierdie brief dwarsdeur lees, kom jy agter ook liefde vir die medemens, ryk of arm maak nie saak nie. Die wonder van alles is dat God wel sy koninkryk aan mense van alle groeperings beloof en dat sy beloftes altyd waar word.

Gebed: Baie dankie Here dat ek ook gekies is, en die koninkryk beloof is, nie omdat ek ryk of arm is nie, maar omdat U my liefhet. Amen

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS