Bible Society of South Africa

Wie en wat is die kerk? - 7 Mei 2024

Deur Ben Fourie

Bybelteks(te)

18En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.

MATTEUS 16:18AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ek hoor in gesprekke en lees in briewe in koerante dat gelowiges sê hulle wil niks meer met die kerk te doen hê nie. Ek gebruik die woord “gelowiges” omdat baie wat niks met die kerk te doen wil hê nie wel nog baie met God te doen wil hê. Hulle glo in Hom, lees gereeld Bybel, bid, en probeer ‘n lewe van integriteit en hoë morele waardes handhaaf, maar die kerk staan hulle nie meer aan nie.

Die redes hiervoor is velerlei. Vir baie het die kerk uit voeling geraak met die behoeftes van die moderne mens. Ander vind die eredienste styf en oninteressant en vir nog ‘n groep het eredienste te loslit geraak met vreemde liedjies en mense wat in slenterdrag met bekers koffie van die kerk se koffiekroeg af in die erediens sit. Sommige ervaar die kerk as geldgierig en ‘n volgende groep dink die kerk is nie inklusief genoeg nie.

Nog ‘n groep gelowiges beleef dat die kerk tred verloor het met wat in die wetenskaplike en tegnologiese wêreld aangaan en onderlinge struweling tussen verskillende kerkgroepe vervreem ook mense van die kerk.

Die Griekse woord. “ekklesia” word afwisselend gebruik vir die kerk in die algemeen of die gemeente in die besonder. Wanneer Jesus hier vir Petrus sê dat Hy sy kerk op die rots van Petrus se belydenis sal bou, verwys Hy na die kerk in breër verband. Die kerk in die wêreld word sigbaar as organisasie, maar ook as liggaam van Christus. Die twee is onderskeibaar, maar nie skeibaar nie. Die “kerk” waarteen mense te velde trek, is gewoonlik die kerk as organisasie.

Ons mag nooit toelaat dat dit wat in die organisasie verkeerd is ons weghou van die liggaam van Christus nie, want Jesus het die kerk as sy liggaam met ‘n doel in die lewe geroep en ek en jy het ‘n groot en belangrike taak in hierdie liggaam.

Gebed: Bewaar my asseblief daarvan om so krities te wees teenoor die kerk as ‘n organisasie, dat ek die vreugde om aan u kerk te behoort, verloor. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS