Bible Society of South Africa

Wat is Jesus vir jou werd? - 12 Junie 2024

Deur Ewald Schmidt

Bybelteks(te)

MATTEUS 5

10Geseënd is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.

11“Geseënd is julle wanneer die mense julle ter wille van My beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van julle sê. 12Wees bly en verheug, want julle loon is groot in die hemel. Hulle het immers die profete voor julle net so vervolg.”

MATTEUS 5:10-12AFR83Maak oop in die Bybelleser

Wanneer dit met ‘n mens goed gaan, het jy baie vriende. Prediker 5:10 sê: “As die goeie dinge van die lewe baie word, word die eters ook baie …” Ek dink dieselfde tendens is waar in die reis van geloof. Toe Jesus brood en vis gratis uitdeel, toe is daar tienduisend mense om saam te eet. Toe Hy gekruisig is, was daar byna niemand van sy volgelinge naby nie. Wat vra dit van ons om navolgers van Jesus te wees? Mense vra van nature eerder die vraag: wat is daarin vir my? Wat kan ek kry? Ons hou van boodskappe van seën, genesing, hoop en ‘n toekoms. Verse soos hierdie lees ons eerder vinnig verby.

Jesus leer ons van dissipelskap in die Bergrede. Hy waarsku ons dat dit nie net maklik en lekker gaan wees om Hom te volg nie. Ons ontvang die genade van die Here gratis, ons kom staan met leë hande voor die Here wanneer ons afhanklik van Hom is. Maar wanneer ons Jesus volg, dan kos dit ons ook alles. Ons moet bereid wees om vir Jesus te ly. Jesus het dit duidelik gestel, as iemand Hom wil volg, moet hy bereid wees om aan homself te sterf, en bereid wees om sy eie kruis op te neem. (Markus 8:34)

Daar is deur die eeue heen ‘n stryd tussen lig en duister, tussen reg en verkeerd. Wanneer jy vir die lig kies, vir dit wat reg is, dan gaan jy teenkanting ervaar. Mense gaan jou beledig, en vir jou vertel hoe oudmodies jou denke is. Wanneer ons moeilike tye beleef, kan dit vir ons voel asof ons op die verkeerde pad is. Ons voel soms die swaarkry aan as onverdiende straf. Tog wil Jesus ons bemoedig: as jy in sy voetspore volg, en jou bes probeer om in die lig te wandel, dan is lyding te wagte. Dis nie iets wat jy verkeerd gedoen het nie, en hoe vreemd dit ook al vir die wêreld mag klink: jy is op die regte pad! Jesus sê: Verbly jou oor lyding ter wille van die waarheid. Jy sal daarvoor beloon word in die hemel.

Maak seker jy ly nie omdat jy die verkeerde dinge doen nie. Maak seker van jou eie gesindheid, optrede teenoor ander, dat dit getuig van die liefde van Jesus. En as jy vir die regte dinge ly, weet dat die Here deur sy Gees vir jou die krag sal gee om te volhard.

Gebed: Here, om U te volg is nie aldag maklik nie. Soms moet ek keuses maak wat teen my eie wil ingaan. Soms moet ek kies om U te volg, waar ander my spot of beledig. Gee my asseblief die wysheid om die regte pad te kies, en gee my die krag om te volhard wanneer die reis moeilik is. Amen

Bible Society of South Africav.4.23.0
VOLG ONS