Bible Society of South Africa

Veg om jou huwelik op te pas! - 21 Junie 2024

Deur Ewald Schmidt

Bybelteks(te)

MATTEUS 5

Egskeiding

31“Daar is gesê: ‘Elkeen wat van sy vrou skei, moet aan haar 'n skeibrief gee.’ 32Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat van sy vrou skei behalwe oor owerspel, maak dat sy egbreuk pleeg, en iemand wat met die geskeide vrou trou, pleeg ook egbreuk.”

MATTEUS 5:31-32AFR83Maak oop in die Bybelleser

Soos met gister se teksvers, is vandag s’n ‘n moeilike teksvers om te waag om iets oor te sê. Ons leef in so ‘n stukkende wêreld, waarin baie van ons mense al seergekry het. Wanneer ons oor egskeiding praat, weet ek dat ‘n aantal van ons lesers al deur hierdie seer is. Ek bedoel regtig nie om ou wonde oop te krap, of ‘n gevoel van veroordeling te laat nie. Wanneer ‘n mens oor siekte praat, dan wil ‘n mens mos ook weet hoe lyk gesondheid? As ons oor egskeiding praat, dan vra ons mos: wat was die Here se oorspronklike plan met die huwelik?

Jesus begin weer met ‘n aanhaling, hierdie keer uit Deuteronomium 24:1-4. Daarin staan dat as ‘n man sy vrou nie meer liefhet nie, omdat hy “iets onbetaamliks” aan sy vrou vind, dan mag hy vir haar ‘n skeibrief gee. Dit is sekerlik baie sleg om in ‘n liefdelose huwelik vasgevang te wees, en in sommige gevalle is dit die mindere euwel om eerder te skei as om mekaar heeltemal te vernietig. Maar die praktyk hiervan was dat manne sommer vinnig “iets onbetaamliks” gevind het wanneer daar ‘n jonger, mooier vrou verby kom. Daar was in bybelse tye nie werksgeleenthede vir vroue nie, hulle was uitgelewer aan die versorging van hulle mans. ‘n Geskeide vrou, wat nie by haar gesin van oorsprong kon tuiskom nie, het ‘n uiters moeilike lewe gehad. Hierdie praktyk van ligtelike egskeidings het groot seer gebring, en lewens vernietig.

Soos in die vorige teksverse kom stel Jesus ‘n hoër standaard wanneer Hy weer sê: “Maar Ek sê vir julle …” Dan vat Jesus die “iets onbetaamliks” uit die prentjie uit. Die enigste rede vir egskeiding, sê Jesus, is wanneer daar owerspel plaasgevind het. Wanneer een van die huweliksmaats die ander een verkul het met iemand anders. Dan is die vertroue in die huwelik daarmee heen, en baie moeilik om weer te herstel. My verstaan van hierdie teksvers is: jy kan kies wie jy wil liefhê, en daarna, wanneer jy jou deur die huwelik aan iemand verbind het, dan moet jy liefhê vir wie jy gekies het. Belê jou lewe daarin om jou huweliksmaat op te bou, groei saam deur die lewe en word saam oud met die Here se genade. Dit was die Here se oorspronklike plan vir die huwelik. Daarom klink die waarskuwing oor egbreuk so hard op die oor. Pas mekaar mooi op. Bou mekaar op. Dien mekaar in liefde, soos Paulus in Efesiërs 5:21 en verder vir ons leer.

Ek sou net uit ‘n pastorale oogpunt ook wou sê: die doel van die huwelik was nooit dat een van die huweliksmaats die ander een fisies aanrand, of verbaal verneder tot in die grond in nie. Dit hoort nie tuis in ‘n Christelike huwelik nie. Dit was nie die ooreenkoms daardie dag toe julle getrou het nie. Indien dit in jou huwelik voorkom, kry asseblief dringend goeie berading. En as dit moet, ter wille van oorlewing, stap weg. Daar is ook vergifnis en heling deur die Here se genade vir egskeiding.

Gebed: Here, U het die huwelik so mooi bedoel. U het ‘n man en ‘n vrou wat mekaar liehet vir mekaar gegee. U bedoeling is dat ons in die huwelik saam sterker en beter is as wat ons ooit op ons eie sou wees. Help my om so ‘n persoon te wees wat my lewensmaat liefhet en dien, tot U eer. Amen

Bible Society of South Africav.4.23.0
VOLG ONS