Bible Society of South Africa

Tyd: Het jy régtig tyd vir God? - 26 April 2024

Deur Charlea Grey

Bybelteks(te)

20Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by hom ingaan en saam met hom die feesmaal hou, en hy saam met My.

DIE OPENBARING 3:20AFR83Maak oop in die Bybelleser

Wanneer die lewe vol en gejaag raak, dan is dit dikwels ons tyd met God wat in die slag bly. Dan word rympies voor etenstyd blitsig afgerammel. Daar word so dikwels voor slaaptyd eerder deur Facebook of Instagram gescroll terwyl die Bybel in die laai bly lê. En ’n laaste gesprek met God gebeur wanneer jy reeds plat in die bed is – onsamehangend terwyl jy eintlik al begin wegdommel en slaap voor jy nog Amen kon sê.

En kerk? Sondae is so lekker as jy kan laatslaap en dan rustig iewers kan gaan brunch. O ja, dis ook nuttig vir inkopies.

Jip, ek maak myself ook skuldig aan die dinge hier bo. Meer gereeld as wat ek eintlik wil erken. So ja, dis nogal ’n ongemaklike waarheid.

Die antwoord is doodeenvoudig: Ons moet meer tyd maak vir God.

As ek en jy ’n verhouding met God wil hê wat groei, ontwikkel en werklikwaar verdiep, dan moet ons ons gewoontes verander. As ek God se stem duideliker wil hoor in my lewe, as ek wil weet wat sy wil vir my is en duidelikheid wil hê oor die paadjie wat ek moet stap, moet ek my Bybel oopmaak. Ek moet met God praat – oop en eerlik, wanneer ek wakker is.

Ek weet, dit wat ek nou sê, kan so maklik klink soos ’n rits streng reëls. Maar ek dink, en ek sê dit omdat ek dit al keer op keer self ervaar het, wanneer ons tyd maak vir God, régtig tyd maak vir God, dan is dit goed vir ons. Dit het ’n positiewe impak, maak nie saak hoe moeilik die lewe se uitdagings soms kan voel nie.

Wanneer ek gereeld tot God bid oor die dinge wat my pla, dan voel die dinge nie meer so swaar nie. As ek Bybel lees voor ek gaan slaap, in plaas daarvan om op sosiale media te boer, voel ek rustiger en minder onvergenoegd.

As ek kerk toe gaan en ek luister na ’n goeie preek, dan word my gedagtes verryk. Nie net as gevolg van die preek nie, maar ook omdat ek my tussen mense bevind wat saam met my aanbid en glo. Dan het ek dikwels nuwe moed vir die week wat voorlê.

Wanneer ek régtig tyd maak vir God, voel die lewe meer hanteerbaar en sinvol.

Ja, soms voel die lewe donker en droewig en dan weet jy dalk nie dadelik waar om God te vind nie. Maar luister mooi. Hy klop. Al wat jy moet doen, is om die deur oop te maak.

Gebed: Here, ek is jammer dat ek so maklik verskonings vind en nie soveel tyd by U deurbring soos wat ek moet nie. Help my om ’n verandering in my lewe te maak. Ek wil met U praat, ek wil u Woord hoor. Help my om U eerste te stel in my lewe. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS