Bible Society of South Africa

Twee en twintig mense in die Bybel wat geduldiger as ons was: Job - 2 Augustus 2023

Deur Xanthe Hancox

Bybelteks(te)

21“Sonder iets het ek in die wêreld gekom

en sonder iets gaan ek daaruit.

Die Here het gegee en die Here het geneem.

Prys die Naam van die Here.”

Job se verhaal is ‘n grondige voorbeeld van geloof wat te midde van ontsaglike lyding bly staan het. Die beproewinge wat hy moes verduur, is verbysterend sowel as hartverskeurend. In ‘n kort tydjie het hy sy rykdom en al sy kinders verloor, en is hy deur ‘n pynlike siekte geteister. Behalwe al hierdie persoonlike lyding, moes Job ook verduur dat hy geen deernis of ondersteuning van diegene naaste aan hom ontvang het nie. Ten spyte van dit alles, het hy aan sy geloof bly vashou en die Here se tydsberekening vertrou.

Alhoewel hy nie die redes vir sy lyding verstaan het nie, het Job geweet dat hy die karakter van die Een wat alles in sy hand hou, kon vertrou. Job leer ons om ons pyn en vrae na die Here toe te bring want Hy verstaan ons probleme.

Job se verhaal herinner ons daaraan dat geloof nie beteken dat ons net wanneer dit goed gaan moet glo nie. Dit beteken dat ons selfs in die donkerste tye aan God moet vasklou. Geloof gaan oor die hoop wat ons in God se beloftes vind, selfs wanneer dit lyk asof ons wêreld uitmekaar val. Geloof beteken dat ons God se tydsberekening moet vertrou, selfs wanneer dit vir ons pynlik stadig voel.

Gebed: Here, dankie dat in ons pyn, verwarring en lyding ons u genade vind. Help ons om deur al ons beproewinge aan ons geloof vas te hou en u tydsberekening te vertrou. Troos ons in ons hartseer en skenk aan ons die krag om u plan te vertrou. Gee dat ons lewens van ons vaste vertroue in U sal getuig. In Jesus se Naam vra ons dit. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS