Bible Society of South Africa

Twee en twintig mense in die Bybel met meer geduld as ons: Sara en Abraham - 10 Augustus 2023

Deur Xanthe Hancox

Bybelteks(te)

6Sara het toe gesê: “God het gemaak dat mense vir my lag: elkeen wat van Isak hoor, sal vir my lag.”

7Sy het verder nog gesê: “Wie sou vir Abraham kon sê dat Sara seuns aan haar bors sal voed? Ek het in sy ouderdom 'n seun in die wêreld gebring.”

GENESIS 21:6-7AFR83Maak oop in die Bybelleser

God het ‘n gelofte met Abraham gesluit en hom beloof dat hy die vader van baie nasies sou word. Abraham en Sara moes egter jare wag en ‘n wipwaentjie van geloof, twyfel en geduld beleef voordat hulle die vreugde van ouerskap kon smaak. Hulle moes die werklikheid van Sara se onvrugbaarheid en die natuurlike beperkinge van hulle ouderdom aanvaar. Tog het hulle, selfs toe alles onmoontlik gelyk het, aan God se belofte vasgeklou en Hom vertrou.

In hulle ongeduld het hulle wel probeer om op hulle eie manier God se belofte te vervul. Sara het voorgestel dat Abraham ‘n kind by haar diensmeisie, Hagar, moet verwek. Dit het tot die geboorte van Ismael gelei. Dit was egter nie wat God beplan het nie en het baie komplikasies tot gevolg gehad.

God se belofte is uiteindelik op sy volmaakte tyd vervul. Net toe dit menslik onmoontlik gelyk het, het Sara aan Isak geboorte gegee. Die naam “Isak” beteken “hy lag”, wat van Sara se blydskap en dankbaarheid getuig. Sara se lag van blydskap staan teenoor haar lag vol twyfel toe sy die eerste keer van die belofte gehoor het. (Genesis 18:12-15)

In ons lewens is daar ook tye waar ons geduldig moet wag vir God se beloftes om vervul te word. Dit is soms moeilik om Hom te vertrou wanneer die omstandighede teen ons is en dit lyk asof tyd oneindig voor ons uitstrek. Tog, soos Abraham en Sara, moet ons vashou aan die versekering dat God getrou is.

Terwyl ons wag vir God se beloftes om vervul te word, kan ons vreugde vind in die seker wete dat Hy ‘n plan het. Net soos Sara oorweldigende blydskap ervaar het toe sy haar langverwagte seuntjie vasgehou het, kan ons ook blydskap in God se beloftes ervaar want ons weet dat Hy dit in sy volmaakte tyd sal vervul.

Gebed: Genadige Vader, dankie vir die voorbeeld van Abraham en Sara wat jare op die vervulling van u belofte moes wag. Gee aan ons blydskap omdat ons weet dat U getrou is. Ons bid dit in Jesus se Naam. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS