Bible Society of South Africa

Twee en twintig mense in die Bybel met meer geduld as ons: Hosea - 4 Augustus 2023

Deur Xanthe Hancox

Bybelteks(te)

4Net so sal die Israeliete 'n lang tyd moet klaarkom sonder 'n koning en amptenare, sonder offers en klippilare, sonder efodbeeld en afgodsbeeldjies.

5Daarna sal die Israeliete hulle bekeer. Hulle sal vra na die wil van die Here hulle God, en hulle sal hulle koning Dawid aanhang. Hulle sal vol eerbied terugkom na die Here toe en na die oorvloed toe wat Hy in die toekoms sal skenk.

Die verhaal van Hosea is ‘n merkwaardige voorbeeld van beide gehoorsaamheid en onwrikbare liefde. Op bevel van die Here het Hosea met ‘n vrou getrou wat as ‘n prostituut bekend was. Deur hierdie ongewone huwelik het Hosea ‘n lewende verpersoonliking geword van God se liefde vir sy ontroue volk, Israel, en dat Hy bereid was om hulle te vergewe.

Hosea se gehoorsaamheid deur met die ontroue vrou te trou, was ‘n kragtige simbool van God se toewyding aan sy volk ten spyte van hulle ontrouheid. Hosea het buitengewone geduld aan die dag gelê, volgehou om sy vrou lief te hê, te aanvaar en, ten spyte van haar voortdurende ontrouheid, te vergewe. Net soos die Here Israel vergewe en sy verhouding met hulle herstel het, het Hosea ook genade en onwrikbare liefde aan sy vrou bewys.

Hosea se ondervinding weerspieël die groter verhaal van God se liefde vir sy volk. Die Israeliete het afgedwaal, weg van hulle toewyding aan God, hulle tot afgode gewend en sy gebooie verbreek. God se liefde was egter onwankelbaar en Hy het geduldig gewag op hulle terugkeer en om hulle weer met Hom te versoen.

In ons eie lewens beleef ons ook soms situasies waar vergifnis en liefde getoets word. Miskien is jy ook al teleurgestel en seergemaak deur iemand anders se ontrouheid. Hosea se voorbeeld leer ons dat gebreekte verhoudings deur die krag van liefde en vergifnis herstel kan word.

Hosea se verhaal help ons om die diepte van God se genade ‘n bietjie beter te verstaan. Net soos Hosea aangehou het om sy vrou lief te hê en te vergewe, bly God se liefde vir ons onwrikbaar en onveranderlik, selfs wanneer ons ontrou is. Hy sien uit na ons terugkeer en verlang na ‘n diep en intieme verhouding met elkeen van ons.

Gebed: Genadige Vader, dankie vir die verhaal van Hosea en vir die kragtige voorbeeld van liefde en vergifnis wat ons daarin vind. Help ons om, net soos U ons vergewe het, ook genade en liefde te bewys aan diegene wat ons seergemaak het. Ons bid dit in Jesus se Naam. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS