Bible Society of South Africa

Staan op heilige grond - 26 Augustus 2024

Deur Xanthe Hancox

Bybelteks(te)

EKSODUS 3

5Die Here sê toe vir hom: “Moenie nóg nader kom nie. Trek uit jou skoene, want die plek waarop jy staan, is gewyde grond.”

Vanoggend se vers kom uit die verhaal van Moses en die brandende doringbos, een van die kragtigste ontmoetings met God in die Bybel. Op ‘n gewone dag, terwyl Moses ‘n trop kleinvee by die berg Horeb opgepas het, sien hy ‘n bos wat aan die brand is maar nie deur die vlamme verteer word nie. Moses gaan nuuskierig nader. God roep na hom vanuit die bos en beveel hom om sy sandale uit te trek want hy staan op heilige grond.

In Moses se tyd was om jou sandale uit te trek ‘n teken van eerbied en nederigheid. Die bevel om sy sandale uit te trek, was die Here se manier om aan Moses te wys dat hy hom in ‘n heilige ruimte en in die teenwoordigheid van die Almagtige bevind. Dit was ‘n bewys dat die grond waarop hy staan anders was as enige ander plek, want God was daar.

Hierdie ontmoeting herinner ons daaraan dat wanneer God Homself openbaar die plek waar die ontmoeting plaasvind, heilig is. Dit mag miskien vir ons nie ‘n brandende bos wees nie, maar God se teenwoordigheid kan enige plek heilig maak – of dit nou ‘n stil plekkie in jou huis is, of daar waar jy in die natuur stap, of selfs tydens ‘n moeilike situasie waar jy van sy leiding bewus word. Die sleutel is om te erken dat sulke oomblikke en plekke heilig is en dan met die nodige eerbied te reageer.

In ons vinnige lewens sien ons dikwels dit wat heilig is nie raak nie. Ons storm deur ons dae onbewus van die heilige grond waarop ons staan. God se teenwoordigheid verander egter die alledaagse in iets buitengewoon. Net soos Moses aangesê is om sy sandale uit te trek, word ons ook geroep om tot God met nederigheid en ontsag te nader, en te erken dat die oomblikke en plekke waar Hy Hom aan ons openbaar, heilig is.

Gebed: Here, help my om te erken dat die plekke waar U Uself aan my openbaar, heilig is. Gee aan my die nederigheid om sulke oomblikke te beleef met eerbied en die nodige begrip dat u teenwoordigheid dit heilig maak. Leer my om stadiger te leef en te erken dat u werk in my lewe die alledaagse in iets buitengewoon kan verander. In Jesus se Naam. Amen

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS