Bible Society of South Africa

Pinksterfees met 'n verskil - 17 Mei 2024

Deur Ben Fourie

Bybelteks(te)

HANDELINGE 2

2Skielik was daar 'n geluid uit die hemel soos van 'n geweldige stormwind, en dit het die hele vertrek gevul waar hulle gesit het.

HANDELINGE 2:2AFR83Maak oop in die Bybelleser

Eerskomende Sondag vier gelowiges van oor die hele wêreld Pinksterfees. Dit was ‘n Joodse fees wat reeds in Levitikus 23:10-22 uiteengesit word. Dit het presies sewe weke lank geduur vanaf die dag net na die Sabbat tydens Pasga. Op dié dag is die eerste gerf van die graanoes na die priester geneem wat dit as gewyde gawe “voor die Here” moes aanbied. Op ons kalender is die dag natuurlik nou opstanding Sondag. Op die eerste dag van die week presies sewe weke later is die hoogtepunt van die Pinksterfees gevier. Die fees het verskillende name gehad soos: fees van die weke, oesfees of fees van die eerste opbrengs van die oes. Die Griekse woord waarvan Pinkster afgelei is beteken vyftigste dag. Alhoewel dit as ‘n heilige dag deurgebring is, was die fees ook ‘n fees van vreugde.

Vir die klein groepie volgelinge van Jesus wat op daardie feesdag in die huis bymekaar was, moes die opdrag van Jesus met sy hemelvaart nog helder in die ore geklink het. Aan hulle het Jesus die groot opdrag gegee om na die hele wêreld te gaan met die boodskap van verlossing. Hy het belowe dat hulle die Gees sou ontvang, maar dit was nou al tien dae sedert die hemelvaart en nog niks het gebeur nie. Terwyl hulle bymekaar is om soos al die ander Jode die fees van die weke te vier, het daar egter skielik iets buitengewoon gebeur. Skielik was daar die geluid soos van ‘n geweldige stormwind en het daar iets wat gelyk het soos tonge van vuur op hulle neergedaal.

Die gevolg hiervan was ook iets uitsonderlik. Wanneer hulle die Gees ontvang, begin hulle in al die tale van die bekende wêreld praat en die betekenis van Pinkster as fees van die eerste opbrengs van die oes, word op ‘n ander manier bewaarheid. Na Petrus se toespraak vind ‘n massabekering plaas en die klein gemeentetjie met sy handvol lidmate groei op een dag met drieduisend, inderdaad ‘n groot eerste oes op geestelike gebied.

Nou was die pad oop tot aan die uithoeke van die aarde. In die volgende paar dae gaan ons kyk hoe die kerk van die Nuwe Testament en ook die kerk deur die eeue hierdie pad gestap het en wat ons opdrag nog steeds is.

Gebed: Ons dank U dat ons kan uitsien na Pinksterfees hierdie Sondag. Maak asseblief ons lewens ook weer vol met u Gees. Amen

Bible Society of South Africav.4.23.0
VOLG ONS