Bible Society of South Africa

Ons Vader ken ons kleinste behoeftes - 7 November 2024

Deur Ewald Schmidt

Bybelteks(te)

MATTEUS 6

7“Wanneer julle bid, moet julle nie soos die heidene 'n stortvloed van woorde gebruik nie. Hulle verbeel hulle hulle gebede sal verhoor word omdat hulle baie woorde gebruik. 8Moet dan nie soos hulle maak nie, want julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra.

MATTEUS 6:7-8AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die Fariseërs kon vir ure lank dieselfde frases in gebed soos ‘n mantra herhaal. Hulle het valslik gedink die uitkoms van gebed hang af van die intensiteit en hoeveelheid woorde wat hulle gebruik om hulle gebedsversoeke tot God te rig. Dit is ook een van die vrae waarmee jong gelowiges worstel: hoe lank moet ek op ‘n slag kan bid? Hoe gaan ek die regte woorde gebruik om deur God verhoor te word?

Jesus wil ons vandag weer verseker dat gebed nie gaan oor baie woorde gebruik nie. Gebed is nie ‘n mantra wat ‘n sekere aantal kere opgesê moet word voordat God daarna sal luister nie.

Nee, gebed is die gesprek tussen ‘n mens en sy hemelse Vader. Die verhouding met God is belangrik in gebed. Ons het deur geloof vrye toegang tot God se genadetroon gekry (sien Hebreërs 4:16). Wanneer ons in gebed met God praat, is Hy ons Vader wat ons gemaak het. Hy was elke tree van ons lewenspad saam met ons tot by hierdie oomblik van gebed. Hy ken ons so goed, dat Hy presies weet wat ons nodig het, selfs nog voordat ons dit van Hom vra. Hy ken elke behoefte wat ons na liggaam, siel en gees het op enige gegewe oomblik.

Tog wil Hy graag hê ons moet ons behoeftes met Hom deel in gebed. Hy weet ons het brood nodig, tog leer Jesus ons om daagliks daarvoor te vra. Hy sal nooit vergeet wat ons nodig het nie. Maar deur daaroor te bid, ontwikkel ons in ons afhanklikheid van Hom. Ons erken Hom as die Gewer van alle goeie gawes in ons lewe. Daardeur groei ons geloofsvertroue, ons sien hoe die Here voorsien in dit wat ons nodig het om elke dag te lewe, en Hom te dien.

Paulus sou dit jare later kom herbevestig in die woorde van Filippense 4:6-7: “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus”

Dit is die vertroue wat ons as kinders van God dra deur die lewe: die Here weet wat ons nodig het nog voordat ons dit vra. En ons is altyd welkom om te vra deur gebed, smeking en met danksegging. Met daardie vertroue leer ons om nie bekommerd te wees nie, maar in geloof saam met die Here ons lewenspad te stap.

Gebed: Here, dankie dat U weet! Dankie dat U my ken, en weet wat ek nodig het nog voordat ek vra. Dankie dat U die Gewer van alle goeie gawes is. Leer my om so op U te vertrou dat ek nie bekommerd na die toekoms kyk nie, maar in geloof bly vra vir dit wat ek nodig het om te lewe, en om U te dien! Amen

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS