Bible Society of South Africa

'n Ontmoeting met die heiligheid van God – 21 Augustus 2024

Deur Xanthe Hancox

Bybelteks(te)

JESAJA 6

Jesaja word geroep om profeet te wees

1In die jaar van koning Ussia se dood het ek die Here gesien. Hy het op 'n baie hoë troon gesit, en die onderste van sy kleed het die tempel gevul. 2By Hom was daar serafs om Hom te dien. Elkeen het ses vlerke gehad: met twee het hy sy gesig bedek, met twee sy voete en met twee het hy gevlieg.

3Die serafs het mekaar telkens toegeroep:

“Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige!

Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid.”

JESAJA 6:1-3AFR83Maak oop in die Bybelleser

Vandag se teks beskryf die kragtige visioen van God se heiligheid wat Jesaja gedurende ‘n tyd van onsekerheid in Israel gesien het. Koning Ussia het gesterf en dit was ‘n tyd van nasionale onstabiliteit en angs. Jesaja sien die Here in al sy heerlikheid op ‘n troon, omring deur serafs wat God se heiligheid verkondig.

Jesaja se visioen van God is een van die mees aanskoulike en ontsagwekkende beskrywings in die hele Bybel. Die beeld van die Here, hoog verhewe op sy troon met sy kleed wat die hele tempel vul, is ‘n oorweldigende illustrasie van God se majesteit en heerlikheid. Die serafs wat hulle gesigte en voete in die teenwoordigheid van God bedek, beklemtoon net hoe heilig en ontsagwekkend Hy is. Hulle aanhoudende uitroepe van “Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige” onderstreep die absolute reinheid en transendensie van God – enersyds is Hy alomteenwoordig en onderhou Hy die wêreld deur sy almag, maar andersyds is Hy nie onmiddellik bereikbaar of toeganklik vir enige menslike kennis nie.

Hierdie gedeelte nooi ons uit om oor die heiligheid van God na te dink, ‘n konsep wat terselfdertyd ontsagwekkend, maar tog ook nederig is. God se heiligheid handel nie net oor morele volmaaktheid nie; dit handel oor sy andersheid, die feit dat Hy afgesonder is van die ganse skepping. Ons is miskien daaraan gewoond om op ‘n familiêre manier aan God te dink, maar Skrifgedeeltes soos hierdie laat ‘n mens besef dat God se teenwoordigheid oorweldigend heilig is en ons diepste ontsag verdien.

Wanneer ons God se heiligheid erken, erken ons ook ons behoefte om nederig voor Hom te wees. Toe Jesaja hierdie visioen gesien het, het hy onmiddellik van sy onwaardigheid bewus geword en gesê: “Dit is klaar met my! Ek is verlore! Elke woord oor my lippe is onrein …” (Jesaja 6:5) Tog is dit in hierdie erkenning van sy eie onwaardigheid dat God aan Jesaja genade bewys, hom reinig en hom roep om Hom te dien.

Hoe reageer ons op die heiligheid van God? Nader ons tot Hom met die eerbied en ontsag wat Hom toekom? Hierdie Skrifgedeelte daag ons uit om ons verhouding met God deur die lens van sy heiligheid in oënskou te neem en te verstaan dat elke ontmoeting met Hom ‘n ontmoeting met die Opperwese is. Dit is ‘n oproep tot aanbidding, nederigheid en ‘n dieper begrip van wie God werklik is.

Gebed: Heilige God, ek nader tot U met diep ontsag vir u grootheid en majesteit. Soos Jesaja, erken ek dat ek onwaardig is om in u teenwoordigheid te kom. Tog nooi U my uit om tot U te nader. Help my om nooit u heiligheid uit die oog te verloor nie en altyd met die eerbied en ontsag wat U toekom, tot U te nader. In Jesus se Naam. Amen

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS