Bible Society of South Africa

'n Nuwe pad - 28 Augustus 2024

Deur Xanthe Hancox

Bybelteks(te)

JESAJA 43

19Kyk, Ek gaan iets nuuts doen,

dit staan op die punt om te gebeur,

julle kan dit al sien kom;

Ek maak in die woestyn 'n pad,

Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring.

JESAJA 43:19AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die profeet Jesaja het hierdie woorde aan die Israeliete gesê terwyl hulle in ballingskap was – ‘n tyd toe hulle fisies ver van hulle vaderland en omring deur onsekerheid was. Hulle was in ‘n verlate plek, beide geografies en geestelik. Tog, selfs in hierdie uitdagende omgewing het God beloof om iets nuuts te doen, ‘n pad in die woestyn te maak en riviere in die droë wêreld. Dit was nie net ‘n belofte van fisiese herstel nie, maar ook van geestelike en emosionele herstel.

Hierdie teksvers vat die gedagte dat God op elke plek waar ons ons bevind aan die werk is, baie mooi saam – of dit nou fisies, emosioneel of geestelik is. Die woestyn en droë wêreld verteenwoordig daardie tye in ons lewens wanneer ons verlore en alleen voel, en geestelike droogte beleef. Hierdie is die plekke waar hoop ver blyk te wees en die pad vorentoe onduidelik is. Tog is dit presies in sulke uitdagende tye en plekke dat God beloof om te werk.

God se verklaring: “Ek gaan iets nuuts doen”, herinner ons daaraan dat geen plek te afgeleë of verlate vir sy teenwoordigheid is nie. Hy is altyd aan die werk om – selfs al kan ons dit nie sien nie – iets nuuts en lewegewend tot stand te bring. Die “iets nuuts” wat Hy beloof kan in die vorm van ‘n hernieude doel kom, die herstel van ‘n gebroke verhouding of as ‘n dieper geestelike verbintenis met Hom. Of ons nou in ‘n plek van fisiese stryd is of emosionele pyn of geestelike droogte beleef, God kan daardie plek in een van groei en vernuwing verander.

Hierdie konsep daag ons uit om wyer te dink oor ons begrip van “plek” as net die fisiese idee daarvan. Dit nooi ons uit om ook na te dink oor waar ons ons emosioneel en geestelik bevind. Op hierdie plekke maak God ook nuwe paaie. Hy maak ‘n pad deur ons emosionele woestyn en laat riviere van lewende water in ons geestelike droë wêreld ontspring.

Gebed: Hemelse Vader, dankie vir u belofte om ‘n nuwe pad in elke woestyn van my lewe te maak en in die droë geestelike wêreld riviere te laat ontspring. Of ek nou fisies op ‘n moeilike plek is, of ‘n emosionele stryd of geestelike droogte beleef, help my om te vertrou dat dit vir U moontlik is om alles nuut te maak. Open my oë om alles wat U nuut maak te ontvang en gee aan my die moed om die paaie wat U maak, te volg. Gee dat u teenwoordigheid elke plek waar ek my bevind sal verander en hoop en lewe sal bring. In Jesus se Naam. Amen

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS