Bible Society of South Africa

’n “Brandpad” vir beskerming - 8 Februarie 2024

Deur Benescke Janse van Rensburg

Bybelteks(te)

7U is vir my 'n skuilplek,

U beskerm my teen aanvalle,

U laat my oorwinningsliedere sing. Sela

Die afgelope maand het die brandweer in en om Kaapstad bontgestaan om brande te blus. In die omgewing waar ek woon, het die vuur vanuit ’n reservaat in ’n stadium gevaarlik naby aan ’n kompleks met groot huise gaan draai. Van die afstand waar ons na die rooi-oranje vlamme en bollende swart rook gestaan en kyk het wat vinnig in die rigting van die huise beweeg, was ek oortuig dat een van die huise in die slag gaan bly.

Nadat die vuur eindelik met helikopters wat water uit ’n nabygeleë dam geskep het, geblus is, het een van die inwoners met sy hommeltuig foto’s van die verwoesting uit die lug geneem. Tot my verbasing het ek vir die eerste keer die “brandpad” reg rondom die kompleks gesien. Die pad is vroeër as beskermingsmaatreël aangebring sou ’n brand in die reservaat uitbreek dit deur die pad gestop word.

Hierdie beeld het my laat dink aan hoe God ons ook te midde van “brande” of storms wat soms ons lewens tref beskerm. In Psalm 34:8-9 lees ons: “Die Engel van die Here slaan sy laer op rondom dié wat die Here dien, en red hulle … Dit gaan goed met die mens wat by Hom skuil.” Ook in Psalm 32:7 lees ons: “U is vir my ‘n skuilplek, U beskerm my teen aanvalle, U laat my oorwinningsliedere sing.”
‭‭‬‬‬‬‬‬
Voel dit asof rooi-oranje vlamme vuur en swart rook in jou rigting beweeg? Onthou, God se Engel vorm ’n laer rondom ons. Maak nie saak hoe sleg dinge lyk of voel nie; Hy is stééds in staat om dinge ten goede te laat meewerk. Sterkte.

Gebed: Vader God baie dankie dat U vir my ’n skuilplek is in tye van vrees. Help my om my oë te alle tye op U te hou. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS