Bible Society of South Africa

Lig vir die wêreld - 14 Junie 2024

Deur Ewald Schmidt

Bybelteks(te)

SPREUKE 3

5Vertrou volkome op die Here

en moenie op jou eie insigte staatmaak nie.

6Ken Hom in alles wat jy doen

en Hy sal jou die regte pad laat loop.

SPREUKE 3:5-6AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die meeste van ons kan nie goed in die donker sien nie. Dit maak dat ons maar bang vir wanneer dit donker word en ons nog buite is. Ons assosieer die donker met gevaar, waar die wilde diere rondloop wat beter as ons kan sien. Skelms hou van die donker, waar hulle beter kan wegkruip. In oorlogstye is nagaanvalle ook baie meer skrikwekkend. Ons as mense is nou maar nie as nagdiertjies gemaak nie. Wanneer dit donker word, wil ons veilig by ons huis wees. In ons huise moet daar lig wees, daarom hou ons nie van beurtkrag nie. Ons kan onsself maklik beseer wanneer ons in goed vasloop.

Die donker is ook simbolies van die wêreld waar die lig van Jesus nog nie skyn nie. Die donker is die woonplek van die bose. Dwarsdeur die Bybel kry ons die waarskuwings teen die werke van die duisternis.

Jesus nooi ons om in sy lig te kom wandel. Johannes het Hom beskryf as “die lig van die wêreld”. (Johannes 1:9) Jesus maak ons deel van sy bediening om sy lig in die wêreld te laat skyn. Die eerste beeld is dié van die olielampies van destyds. Die lig kon dalk so bietjie flou gelyk het teen vandag se LED-ligte. Maar wanneer dit op ‘n lampstaander in die huis geplaas is, kon die lig met ‘n sagte glans almal in die huis help. Kinders kon hulle huiswerk doen, en niemand het in meubels vasgeloop nie. Die uitdaging aan ons: laat Jesus met ‘n sagte glans oral skyn waar ons beweeg! Dit maak geen sin om so ‘n lampie onder ‘n maatemmer te plaas nie, die vlam sou waarskynlik geblus word en dan mis die lampie sy doel. So is ons ook besig om ons doel te mis wanneer ons ons verhouding met Jesus geheim probeer hou.

Die uitdaging is vir ons as gelowiges om soos ‘n stad op ‘n berg te wees. Een liggie alleen kan dalk dof lyk, maar baie ligte saam maak ‘n reuse verskil. Ons het seker almal al in die nag op die langpad gery. ‘n Mens kan die ligglans van ‘n stad van ver af sien. Dit dui vir jou die koers aan – jy is op die regte pad. Jy is op pad na jou bestemming toe, op pad na veiligheid toe.

Mag die lig van die Here se baie kinders in hierdie wêreld helder skyn in die donker nag van die wêreld, en ‘n baken van hoop wees!

Gebed: Here Jesus, U is die lig wat in die donker skyn. U het ook in my donkerte kom skyn, en my genooi om in die lig saam met U te wandel. Laat u lig nou ook helder deur my skyn, en die wêreld rondom my met ‘n sagte glans verlig. Amen

Bible Society of South Africav.4.23.0
VOLG ONS