Lewende Here - 28 September 2020

Deur Ben Fourie

Vir die mense van Jesus se tyd was die begrip van iemand wat uit die dood opstaan nie so totaal vreemd soos vir moderne mense nie. Verskeie godsdienste het verhale gehad van ’n god wat sterf en dan lewendig raak, byvoorbeeld die van Osiris in Egipte. In die Ou Testament is daar net drie verhale van iemand wat uit die dood opgewek word en al drie verhale is aan Elia of Elisa gekoppel. Die verhale van die opwekking van die dogtertjie van Jaïrus en van Lasarus moes redelik bekend gewees het, ten minste onder die volgelinge van Jesus.

Ten spyte hiervan, soek die vroue daardie vroeë oggend na ’n liggaam in plaas van ’n lewendige Jesus. Opstanding uit die dood is mos darem nie ’n alledaagse gebeurtenis nie. Selfs vir hulle was die gedagte dat Jesus uit die dood opgestaan het net te onwerklik. Dalk was dit omdat hulle self by die kruis teenwoordig was, self gesien het hoe Josef van Arimatea die slap liggaam van die kruis afhaal, moontlik selfs die spieswond in Jesus se sy gesien het. Kan ons hulle kwalik neem dat hulle nie geglo het nie?

Wat dink ek en jy hier in die lente van die jaar 2020 oor die moontlikheid dat Jesus uit die dood uit opgestaan het? Baie mense wat andersins sê dat hulle in Jesus glo, kan maar net nie die opstanding uit die dood aanvaar nie. Hulle leef volgens Christelike beginsels, glo selfs in die idee van iemand wat vir almal se beswil sterf, maar ’n opstanding? Nie regtig nie.

Tog sê Paulus as ek dit nie glo nie, is ek die ellendigste van alle mense. Ek is baie eerlik as ek sê dat dit vir my verstand moeilik aanvaarbaar is, maar tog glo ek met my hele hart dat Jesus daardie Sondagoggend vroeg die dood oorwin het. Soos die engel aan die vroue gesê het: “Hy is nie hier nie, want Hy is uit die dood opgewek …”. As ek dit nie geglo het nie, sou godsdiens vir my maar bra niksseggend gewees het.

Gebed: Hoe kan ek ooit vir U genoeg dankie sê dat die graf leeg is. Amen