Bible Society of South Africa

Leef voluit: Waardeer God se tyd - 3 Julie 2024

Deur Louise Gevers

Bybelteks(te)

PREDIKER 3

Elke ding het sy vaste tyd

1Elke ding het sy vaste tyd,

elke ding in hierdie wêreld het sy tyd:

PREDIKER 3:1AFR83Maak oop in die Bybelleser

Tyd is God se groot geskenk aan ons – dit is so fassinerend as wat dit kompleks is. Tyd dui aan hoe dae, seisoene en gebeure verbygaan, en alhoewel dit aanwesig is en elke deel van ons lewens raak, kan dit nie beperk of ten volle verstaan word nie. Wanneer ons dit reg gebruik is dit ons vriend, maar wanneer dit ons beheer, word dit ‘n frustrerende vyand wat mens laat voel asof jy voortdurend ‘n ontwykende dief jaag wat oor die krag beskik om jou in plekke te laat beland wat jy eerder sou wou vermy.

As jy al ooit oor verskillende tydsones gereis het, sal jy weet hoe moeilik dit kan wees om met jou mense tuis te kommunikeer, en sal jy ‘n app soos “Time Wizard” waardeer wat die die tydsverskille tussen lande aandui en jou in staat stel om betyds vir ‘n virtuele vergadering op te daag, of nie huis toe te bel wanneer almal slaap nie!

Ons moet in staat wees om tyd te kan aangryp en bestuur sodat ons die goedheid van die lewe ten volle kan beleef en geduld kan kweek om die vrug van ons arbeid te geniet. ‘n Roosboom blom nie die dag wat jy dit plant nie, maar na maande van deeglike versorging word jy met pragtige blomme beloon, wat die tyd wat gespandeer is absoluut die moeite werd maak.

In die skeppingsverhaal het God tyd gebruik om dinge te maak en toe gesê dat sy werk goed is. Hierdeur het Hy vir ons ‘n voorbeeld gestel om na te volg en te respekteer. Die persoon wat vroeg reeds leer om elke vlietende oomblik wat tyd bring te koester, sal deur die onbeperkte, uiteenlopende ervarings wat dit bied besef watter groot geskenk dit is.

Kom ons besin oor Salomo se woorde: “Daar is ‘n tyd om gebore te word, ‘n tyd om te sterwe, ‘n tyd om te plant, ‘n tyd om plante uit te trek, ‘n tyd om ‘n lewe te neem, ‘n tyd om ‘n lewe te red, ‘n tyd om af te breek, ‘n tyd om te bou, ‘n tyd om te huil, ‘n tyd om te lag, ‘n tyd om te treur, ‘n tyd om van blydskap te dans, ‘n tyd om klippe weg te gooi, ‘n tyd om hulle bymekaar te maak, ‘n tyd om te omhels, ‘n tyd om weg te bly van omhelsing af, ‘n tyd om aan te skaf, ‘n tyd om te laat wegraak, ‘n tyd om te spaar, ‘n tyd om weg te gooi, ‘n tyd om te skeur, ‘n tyd om toe te werk, ‘n tyd om stil te bly, ‘n tyd om te praat, ‘n tyd om lief te hê, ‘n tyd om te haat, ‘n tyd vir oorlog, ‘n tyd vir vrede.” (Prediker 3:2-8)

Hierdie woorde openbaar balans en struktuur in die lewensiklus en volmaakte tydsberekening vir alle mense soos God dit bestem het. God word nie deur tyd beperk nie, want “So sê Hy wat hoog en verhewe is, Hy wat ewig leef en wie se Naam die Heilige is: Ek woon in ‘n hoë en heilige plek en Ek is by hom wat verdruk en nederig is. Ek gee nuwe krag aan die nederiges, Ek gee nuwe krag aan die verdruktes.” (Jesaja 57:15)

God se tyd beteken dat ons nooit oorweldig hoef te voel nie – nie soos in ‘n vreemde droom waar mens se gedagtes en aksies heeltemal deurmekaar is en jy dan verward wakker skrik, want jy weet glad nie wat gebeur het nie. Inteendeel, met God kan ons elke gebeurtenis erken en waardeer want Hy dra ons daardeur en Hy gee aan ons ‘n sin van vrede en stabiliteit in hierdie uitdagings waardeur ons gevorm word.

Kom ons waardeer hierdie groot geskenk!

Gebed: Liefdevolle Vader, U is ewig, en dit is heeltemal bo ons begrip, maar U het tyd tot ons voordeel gemaak en u woord sê: “Elke ding het sy tyd en sy manier.” (Prediker 8:6a) Deur tyd stel U ons in staat om “vrolik te wees en die goeie van die lewe te geniet.” (Prediker 3:12b) “Leer [my om my] dae so [te] gebruik dat ek wysheid bekom.” (Psalm 90:12) Amen

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS