Bible Society of South Africa

Leef voluit: Lig of skaduwee? - 5 Julie 2024

Deur Louise Gevers

Bybelteks(te)

MARKUS 4

Julle moet luister

21Hy het vir hulle gesê: “'n Lamp kom mos nie onder 'n emmer of onder 'n bed nie? Is dit nie bedoel om op 'n staander gesit te word nie?

Sal jy ‘n lamp onder ‘n emmer of ‘n bed wegsteek? Of sal jy eerder iets wat jy nie wil hê iemand anders moet vind nie onder ‘n emmer versteek – soos die laaste snytjie sjokoladekoek of die gebakte aartappels wat oorgebly het? Onder die bed sal jy miskien iets prakties versteek, soos byvoorbeeld skoene of ‘n tas, maar net as ‘n tydelike maatreël totdat dit benodig word. Jesus se vraag is ietwat teenstrydig, maar Hy het duidelik ‘n punt gehad om te bewys.

Tot watter mate leef ons voluit vir God? Tot watter mate wil ons deel wees van die verspreiding van die goeie nuus van sy koninkryk? Die manier wat Hy sy Vader se werk en sy bediening hier op aarde aangepak het, maak van Jesus self ‘n lewende voorbeeld van wat dit beteken om voluit vir God te leef. Dit is die sleutel om die belangrikheid van lig te verstaan in die opdrag wat Jesus hier aan sy dissipels gegee het.

Jesus gebruik ‘n absurde beeld van lig wat weggesteek word om te beklemtoon dat dit nie bedoel is om versteek te word nie, maar dat dit eerder moet skyn. Hy wou die dissipels, wat binnekort die lig van die evangelie sou moes uitdra, voorberei om dit in die donker wêreld te skyn en hoop aan ‘n gebroke mensdom te bring. Die wêreld sou dit sien en aangetrokke wees tot die goeie nuus van die evangelieboodskap.

Jesus het sy openbare bedieniening begin deur na Galilea te gaan “en eenvoudig die evangelie van God verkondig”. (Markus 1:14) Hy het 40 dae in die wildernis verduur waar Hy gevas en deur die duiwel versoek is en met die Heilige Gees vervul is. Sy boodskap was eenvoudig en lewendig: “… die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie.” (Markus 1:15)

Jesus het in sy hart geweet dat Hy een met sy Vader was en oral waar Hy gegaan het, het die skare saamgedrom om na Hom te luister. Wat Johannes die Doper voorspel het, het waar geword: “Hy moet meer word en ek minder.” (Johannes 3:30)

Jesus, die Lig van die wêreld, het sy leringe na die donker wêreld gebring en sy volgelinge onderrig deur te sê: “Julle is die lig vir die wêreld. ‘n Stad wat op ‘n berg lê, kan nie weggesteek word nie; ook steek ‘n mens nie ‘n lamp op en sit dit onder ‘n emmer nie maar op ‘n lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis.” (Matteus 5:14-15)

Jesus is ‘n Lig vir almal en Hy roep almal om met blydskap God se goeie nuus van verlossing te aanvaar en om dan, as draers van sy lig, hierdie boodskap vreugdevol met die wêreld te deel en onbeskaamd “die verlossingsdade [te] verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig”. (2 Petrus 2:9) Nooit sy lig weg te steek (onder ‘n emmer?) nie, of ons vermoëns in twyfel te trek en dan te besluit om dit eerder weg te bêre (onder die bed?) vir “beter” dae nie.

Wat is jou antwoord op sy roepstem?

Gebed: Here Jesus, gee dat ek elke dag meer soos U sal word en dat u lig in en deur my helderder in die wêreld sal skyn. Amen

Bible Society of South Africav.4.23.0
VOLG ONS