Bible Society of South Africa

Leef voluit: Geklee in gehoorsaamheid - 9 Julie 2024

Deur Louise Gevers

Bybelteks(te)

1 SAMUEL 15

22Maar Samuel antwoord:

“Is brandoffers en ander diereoffers

net so aanneemlik vir die Here

as gehoorsaamheid aan sy bevel?

Nee, gehoorsaamheid is beter as offerande,

om te luister is beter as die vet van ramme.

1 SAMUEL 15:22AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ons almal hou van ‘n braai of hoe? Om saam te kom vir ‘n ete met heerlike vleis, warm van die kole, met tradisionele bykosse, is iets wat die meeste Suid-Afrikaners baie geniet. Het koning Saul miskien soiets in gedagte gehad – ‘n vredesoffer – toe hy God se opdrag oor die aanval op die Amalekiete verontagsaam en koning Agag en die beste van sy vee gespaar het, maar alles anders van kant gemaak het?

In vandag se teksvers lewer Samuel, nadat hy Saul gekonfrenteer het, sy uitspraak oor laasgenoemde se flou verskonings. Eers het Saul sy manskappe beskuldig, en toe misleidend verwys na die offer wat hy aan die Here wou bring – alles omdat hy ongehoorsaam was!

Samuel was diep bekommerd toe God gesê het: “Ek is bedroef daaroor dat Ek Saul koning gemaak het, want hy het van My af weggedraai en nie my opdragte uitgevoer nie.” Samuel was ontsteld en hy het die Here die hele nag om uitkoms gesmeek” (1 Samuel 15:11) en hy het besef dat Saul te trots was om sy ongehoorsaamheid aan God te erken deur die waarheid te praat.

Toe Israel God se heerskappy verwerp het en ‘n koning wou hê, is Saul moontlik deur die lot te werp verkies, hy is deur Samuel gesalf, en “God het Saul se gesindheid verander”. (1 Samuel 10:9). God het hom geseën om te doen wat sy hand vind om te doen. (Lees 1 Samuel 10:7)

Saam met mag, het Saul se trots oor sy eie bekwaamheid toegeneem en het hy van God af weggedraai. Sy lengte, treffende voorkoms en selfs God se roeping, het ‘n struikelblok geword wat daartoe gelei het dat hy besluite geneem het wat God se bevele verontagsaam en sy eie strategieë en oordele bo dié van God gestel het. Dit was egter eers toe Saul, eerder as om God te verheerlik ‘n monument vir homself opgerig en al die eer vir dit wat God deur hom gedoen het vir homself toegeëien het, dat sy ware gesindheid na vore gekom het.

Gehoorsaamheid is vir geen ouderdomsgroep maklik nie. Of jy nou twee of 62 is, ons wil gewoonlik dinge volgens ons eie wil doen, en nie volgens reëls en wette ons aan gesag onderwerp nie. Ons weet egter dat God in ons verhouding met Hom gehoorsaamheid van ons verwag, wat tot ‘n ordelike, gesonde samelewing en die beskerming en welstand van almal sal lei.

Wanneer ons wegdraai van God plaas ons altyd iets of iemand in sy plek, wat afgodediens is. In Saul se geval was die monument waardeur hy homself vereer het sigbaar, maar hoeveel keer is die afgod wat God se plek in ons lewens inneem, weggesteek?

Soos Saul, is ons nie ook dikwels so selfbehep met die lewe wat God aan ons skenk, dat ons vergeet vanwaar ons kom nie, God se roeping tot gehoorsaamheid ignoreer en eerder toelaat dat vals trots floreer? Of is ons eerder nederig en dankbaar vir die oorvloedige lewe wat ons daagliks geniet? Is ons verantwoordbaar aan Christus en leef ons naby Hom?

Gebed: Here Jesus, U het gesê: “Waarom noem julle My ‘Here, Here!’ maar julle doen nie wat Ek sê nie?” (Lukas 6:46, 2020-vertaling) en “… waarlik gelukkig is hulle wat die woord van God hoor en dit onderhou.” (Lukas 11:28, 2020-vertaling) Help my om altyd u woord te onderhou. Amen

Bible Society of South Africav.4.23.0
VOLG ONS