Bible Society of South Africa

In pas met God: Verenig in liefde - 26 Januarie 2024

Deur Louise Gevers

Bybelteks(te)

21Ek bid dat hulle almal een mag wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U, dat hulle ook in Ons mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.

JOHANNES 17:21AFR83Maak oop in die Bybelleser

Of soldate nou tydens a nasionale geleentheid of op die paradegrond marsjeer, dit bly ‘n indrukwekkende gesig. Die streng formasies wat hulle handhaaf terwyl hulle in pas marsjeer, stel hulle in staat om as ‘n eenheid te beweeg. Dit is ongelooflik hoe ekspressief hierdie bewegings kan wees. Dit is baie duidelik en aangrypend uitgebeeld tydens die byna vyf kilometer lange begrafnisoptog van wyle koningin Elizabeth II wat op TV gebeeldsend is.

Eenheid is mag. Dit dui aan samehorigheid, solidariteit en harmonie. In wiskunde beteken dit een. Die teenoorgestelde is onenigheid wat manifesteer in verdeeldheid, spanning, onsamehangendheid en disorganisasie. Om egter die uiterlike effek van eenheid te kan ervaar moet daar innerlike kohesie wees. Hoe bereik ons as Christene dit?

In die eerste deel van hierdie reeks het ons samewerking en harmonie kortliks bespreek, maar vandag bespreek ons die feit dat Jesus vir eenheid onder sy dissipels gebid het voordat Hy sy missie hier op aarde voltooi het, en dat Hy beloof het om ‘n “ander Voorspraak” (Johannes 14:16) in die vorm van die Heilige Gees te stuur om hulle te lei, te inspireer en om aan hulle krag te gee in tye van swakheid.

Ons as gelowiges word by Jesus se gebed ingesluit wanneer Hy sê dat Hy bid “ook vir dié wat deur hulle woorde tot geloof in [Hom] sal kom” (Johannes 17:20), met ander woorde ook vir ons vandag. Jesus se woorde aan sy Vader is: “Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees, sodat die wêreld kan weet dat U My gestuur het en hulle liefhet net soos U My liefhet.” (Johannes 17:23)

Dit gaan oor liefde en gebed.

Wanneer Christene gehoor gee aan Jesus se “nuwe” gebod om mekaar lief te hê soos Hy ons liefhet (Johannes 13:34) werk hulle saam in harmonie en sal hulle as sy dissipels geken word. Die vroeë kerk het dit reggekry na die uitstorting van die Heilige Gees op die gelowiges, want hulle “was eensgesind en het alles met mekaar gedeel”. (Handelinge 2:44) Hulle was uit verskillende kulture en godsdienste afkomstig, maar Jesus se liefde was vir hulle die voorbeeld en hulle het in die krag van die Heilige Gees geleef.

Deur hulle besittings te verkoop en alles wat hulle gehad het met mekaar te deel, het hulle seker gemaak dat daar vir almal voorsien is en deur hierdie praktiese liefde onder hulle het die kerk gegroei. Dit het gebly terwyl hulle ‘n visie gehad en Jesus getrou gevolg het. Alhoewel dit later nie in dieselfde mate voortgesit is nie, weet ons dat Jesus steeds wil hê dat ons, alhoewel ons nie almal dieselfde agtergrond het nie, deur sy liefde almal op dieselfde bladsy is.

In die woorde van ‘n ou Engelse lied: “When I needed a neighbour were you there, were you there? When I needed a neighbour were you there? And the creed and the colour and the name don’t matter, Were you there?” https://youtu.be/fExR7eOhJO0

Gebed: Here Jesus, verenig ons in u liefde sodat ons “een in liefde, een van hart, een in strewe” kan wees en sodat ons nie net “elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander” (Filippense 2:2,4) en U eer deur alles wat ons doen. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS